Local newsNews

Inkbessie – groot gif!

Inkbessie of Inkberry (Cestrum leavigatum en Cestrum parqui, waarvan daar minstens twee spesies in Parys-omgewing voorkom, is eintlik as heiningplant of windskerm van Brasilië ingevoer. Vandag is dié aardige plant berug om ander redes.

Cestrum se prominente status op die lys van probleemplante, kan as volg beskryf word:
1. Giftigheid/toksisiteit
Die hele plant, blare, vrugte, stingels, asook die wortels, is uiters giftig en is soms verantwoordelik vir beduidende veevrektes omdat diere verlei word deur die groen loof wanneer Inkbessie lewe toon tydens die lente. Trouens, voordat Inkbessie uitgewys is as die skuldige in die destydse Natal (Pietermaritzburg-omgewing) is na die groep vergiftigings-simptome verwys as Chase Valley-siekte, waarvan die oorsaak toe nog toe onbekend was.

2. Die vermoë om baie vroeg in die lente of selfs tydens laat winter al te begin uitloop met nuwe lote en blare.  Nie lank daarna nie, blom die plant en vorm vrugte, wat aanvanklik groen is, maar later verkleur na donker pers-swart. Inkbessie is ‘n uitheemse plant en ‘n verklaarde onkruid, wat beteken dat grondeienaars wetlik verplig is om dit te beheer waar dit op jou plaas of in jou dorpstuin voorkom. Inkbessie word beskryf as ‘n 1 tot 2 meter hoë immergroen struik, maar in die intense koue van ‘n tipiese Vrystaatse winter, verloor hy sy blare. Soos reeds genoem, lê die gevaar en wag vir veeboere tydens die lente deurdat Inkbessie baie vroeër lewe toon as inheemse bome en struike en veral grasse. Sou mens die blare kneus, gee dit ‘n kenmerkende, onaangename reuk af, wat jou laat wonder: Wat besiel vee om daaraan te wil staan en vreet?

3. Waar Cestrum dramaties verdig, soos dikwels die geval is onder bome, kan dit inheemse plantegroei heeltemal verdring en biodiversiteit inperk.

Blare van die Inkbessieplant. Dit het ‘n erg onaangename, kenmerkende, reuk as mens dit kneus
Volwasse, ryp vrugte van die Inkbessie met groen onvolwasse vruggie, heel links

Beheermaatreëls
Meganiese beheer
Mens kan Inkbessie uitgrawe, maar dan moet alle stukkies wortels ook uit die grond verwyder word om enige hergroei te voorkom. Dit is die veiliger metode vir die huistuin.

Inkbessie plant van saad óf vegetatief (deur wortels) voort. Meganiese beheer – fisiese uitgrawe van die plant, kan suksesvol wees mits mens al die wortels verwyder.
Inkbessie plant van saad óf vegetatief (deur wortels) voort. Meganiese beheer – fisiese uitgrawe van die plant, kan suksesvol wees mits mens al die wortels verwyder

Chemiese beheer
Daar is twee basiese opsies. Mens kan die lote net bo die grond afsny en behandel onmiddelik daarna (die sogenaamde cut stump-behandeling), of die loof (groen blare en jong lote) kan bespuit word met ‘n geskikte produkmengsel bestaande uit geregistreerde, bewese onkruiddoder, benatter, water asook ‘n
effektiewe kleurstof.

Teikenplante moet aktief groei, sonder tekens van omgewingstres, soos verwelkte blare en die lote met volledig ontwikkelde blaredrag, moet verkieslik 500 – 1000 mm hoog wees. Vermy
bespuiting in sterk wind.

Met chemiese beheer is dit noodsaaklik dat mens die nabyheid en sensitiwiteit van gewenste plantegroei, soos bome, in ag neem. Die geregistreerde onkruiddoders ken ongelukkig nie die verskil tussen Inkbessie en gewenste plantegroei nie. Mens moet dus oordeelkundig te werk gaan met enige chemiese behandelings.

In huistuine, oorweeg die opsie van uitgrawe van die hele wortelstelsel om die risiko van onbedoelde chemiese skade, uit te skakel.
Waar op die chemiese opsie (onkruiddoders) besluit word, is dit wyse raad om vooraf die produketiket deeglik te bestudeer. Moet ook nie raad aanvaar van mense wat nie spesialiseer in beheer van houtagtige plante nie – dis ‘n veld wat hemelsbreed verskil van gewasverbouing waar mielies, sonneblom en sojabone ter sprake is.

Inkbessie plant van saad óf vegetatief (deur wortels) voort. Meganiese beheer – fisiese uitgrawe van die plant, kan suksesvol wees mits mens al die wortels verwyder

Mense wat navrae het kan Chris Richter skakel by 082 458 4558, of Ferdie Jordaan by 083 636 7368.

Verwysings:
Henderson, M, Fourie D.M.C., Wells M.J., Henderson L. (1987). ‘ Verklaarde Onkruide en Uitheemse
Indringerplante in Suid-Afrika’. Departement van Landbou en Watervoorsiening, Bulletin 413, Bls. 30-32.
Van Wyk, B., Van Heerden, F., Van Oudtshoorn, B. (2005). ‘Poisonous Plants of South Africa’. Briza
Publications. Page 62-63.
Jordaan, F. Chemiese Beheer van Inkbessie (2005). Ongepubliseer.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button