Local newsNews

Nersa-uitspraak: Vrystaatse inwoners moet beskerm word

Die hofbevel van die Pretoriase hooggeregshof en die onsuksesvolle aansoek deur Nersa vir verlof tot appèl, verhinder die ander dertien munisipaliteite om enige kragtariefverhogings te implementeer.

Vrystaatse munisipaliteite wat onwettig kragtariefverhogings geïmplementeer het, moet nou aandui of hulle stappe gaan neem om inwoners te vergoed vir die onwettige hoër tariewe, sê die Vryheidsfront Plus.

Dit volg nadat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se planne om onregmatige en ongeldige munisipale kragverhogings deur te druk, weer ‘bloedneus’ in die hof gekry het toe NERSA se aansoek om verlof tot appél van die hand gewys is.

Die  burgerregte-organisasie, AfriForum, het na die hofuitspraak gesê dit is ‘n reuse oorwinning in die belang van miljoene kragverbruikers.

Die hooggeregshof het in Junie vanjaar in AfriForum se guns beslis en bevestig dat NERSA se besluit om munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig en ongeldig is.

Kostestudies is van kritieke belang omdat dit ‘n duidelike uiteensetting gee van wat munisipaliteite se tariewe moet wees om die diens behoorlik te kan lewer, en netwerke instand te hou.

Die uitspraak wat in Junie gegee is, moet nou geïmplementeer word wat beteken munisipaliteite wat nie die vereiste kostestudie ingehandig het saam met hul aansoek om kragtariefverhogings nie, sal die kragtariewe wat vir die 2023/24 finansiële jaar goedgekeur was, moet hef.

Aansoeke om kragtariefverhogings vir 2024/25 sal volgens die uitspraak, heroorweeg word mits die betrokke munisipaliteite die nodige kostestudies binne 60 dae indien.

Die VF Plus het reeds vrae in alle Vrystaatse munisipaliteite ingedien sodat die munisipaliteite wat nie aan die regulasies voldoen het nie, rekenskap moet gee oor hoe inwoners vergoed sal word, is vandag in ‘n verklaring gesê.

Die party sê verder dat ingevolge die hofbevel mag net die Letsemeng, Setsoto, Nketoana, Tswelopele, Moqhaka, Mohokare en Centlec in Mangaung hoër kragtariewe vir die huidige boekjaar hef.

“Die hofbevel van die Pretoriase hooggeregshof en die onsuksesvolle aansoek deur Nersa vir verlof tot appèl, verhinder nou die ander dertien Vrystaatse munisipaliteite om kragtariefverhogings te implementeer,” sê die party verder.

Die party sê ook in sy verklaring die tyd het aangebreek dat munisipale amptenare wat nie wetgewing en regulasies nakom nie, verantwoordbaar gehou word en die regte van Vrystaatse inwoners beskerm word.

Related Articles

Back to top button