Local newsNews

Kadoefie kook ‘n storm los op Vredefort

As dié dorp se mense 'n ding doen dan gaan hul groot - of dit skoonmaak, plan maak of kosmaak is.

Van vroegdag vanoggend  het doringhoutvure hoog gebrand vir ‘Kadoefie’ se trooskos toe vlytige Vredeforters gewys het hoe hartskos uit toeka se dae gemaak is, want een ding moet jy weet – as  Vredefort se mense ‘n ding doen, dan doen hulle dit groot. Of dit skoonmaak, plan maak of kosmaak is – dié dorp se mense kan.

Vir weke lank is beplan, gewerk, gebak, geprakseer, gedink, gedoen – selfs deurnag as dit moet. En vanoggend was die vrugte van die arbeid daar.  Karre wat so ver soos die oog kan sien al om die kerk getou het. Gewillige hande wat rondgedraf het om wegneem pannetjies vol kos te skep. Braaiers wat flink die vleis en die snoek op die kole moes draai. Krummelpap, stywe pap en geelpap in bielies van potte. En soetpatats- tradisioneel en met ‘n kinkel wat jou nader geroep het vir ‘n bestelling van die lekkerte.

‘Kadoefie’ het ‘n storm los gekook op die kerkterrein, want in die Boskombuis kon jy kry wat jou hart begeer. Van ‘n murgbeen en plaasbrood, tot roosterkoek en moerkoffie, afval en ‘n gebakte skaapkop.

Daar was ‘n feestelikheid so tussendeur die proe-plesier op bale en onder sambrele – oral het mense gesit en gekuier en die kinders gebaljaar in die Kinderkraal.

Daar’s geproe, gekoop en geniet by die Vredefort NG Kerk se Kos- en Kuiermark. Hemel op die platteland – soos net die Vredeforters kan!

En om die dag se sukses net volmaak om te soom was Manie Jackson agter die mikrofoon.

 

Vir die minder waaghalsiges was die kerksaal propvol gepak met van pannekoek tot kleurvolle basaarpoedings, die Kontreimark se gebak uit die boonste rakke  deur Vredefort se baasbaksters, en die Plaaswinkel  tafels wat gekreun het onder die vleis.

Daar was vars geplukte dadels uit Keimoes se wêreld en selfs meelsakke wat omskep is in  kunstige inkopiesakke.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button