Local newsNews

Vroue sterf in tragiese botsing

Die ongeluk het in digte rook weens 'n veldbrand gebeur.

Twee vroue van Sasolburg het Vrydagmiddag in ‘n tragiese ongeluk op die R59 by Leeuspruit/Sasolburg gesterf. Die ongeluk het in digte rook weens ‘n veldbrand gebeur toe die motor waarmee die vroue gery het, teen ‘n vragmotor gebots en aan die brand geslaan het. Beide vroue is op die toneel dood.

Die ongeluk het gebeur kort na ‘n kettingbotsing op die N1 in die rigting van Johannesburg waarin vyf voertuie betrokke was. Dié ongeluk was ook weens digte rook van ‘n veldbrand.

Verskeie veldbrande het die afgelope week sig op paaie in die omgewing bemoeilik. Die Vaal Eden Brandvereniging het na aanleiding hiervan motoriste aangeraai om spoed te verminder wanneer jy digte rook van ‘n veldbrand op die pad teëkom.

Motoriste moet ook stadiger ry met die voertuig se hoofligte aangeskakel vir beter sigbaarheid. Daar is gewaarsku dat dit baie belangrik is om ‘n veilige volgafstand te hou, en skielike stilhou of baanwisseling te vermy.

As jy nie die pad of ander verkeer kan sien nie, is dit beter om op ‘n veilige afstand aan die kant van die pad stil te hou voordat jy in die rook inry. Dit sal jou ook toelaat om om te draai en ‘n alternatiewe roete te volg.
Laat jou enjin luier terwyl jy wag dat die rook opklaar. Gebruik jou noodligte om ander bestuurders van jou teenwoordigheid te waarsku.

Bly in die voertuig met die lugversorging op sy hoogste verstelling. Skakel ook die lugversorging na interne sirkulasie. Dit veroorsaak ‘n positiewe druk in die voertuig om die rook uit te hou. Moet onder geen omstandighede deur die rook probeer jaag nie.

Hou in gedagte dat daar moontlik boere of ander rolspelers mag wees wat besig is om die brand te blus. Onthou as jy nie ander voertuie kan sien nie, kan hulle jou ook nie sien nie.

*’n Vrou is Sondag met ernstige beserings met ‘n noodhelikopter na ‘n Albertonse hospitaal vervoer na ‘n botsing sowat 10km buite Parys op die R53 (Parys/Potch-pad). Daar was geen ander voertuie in die botsing betrokke nie. Die hondjie wat saam met die vrou in die voertuig was, is ook beseer en onderweg na die veearts oorlede.

* Die hip-hop kunstenaar Moleme Vector en nog twee ander persone is op 24 Julie op die N1 naby Koppies in ‘n botsing oorlede toe die Datsun motor waarin die oorledenes en nog twee insittendes was, met ‘n vragmotor gebots het. Beide die ander twee insittendes is ook in die botsing beseer.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button