Local newsNews

Man skuldig aan hond se bykans ondenkbare lyding

Die hond het volgens die veeartsverslag vir minstens twee weke met die brandwonde geloop.

‘n Honde-eienaar van die Mokwallo-woonbuurt by Vredefort is in die Vredefortse landdroshof
skuldig bevind op ‘n klag van versuim om mediese hulp aan sy hond te gee. Die hond is aan die ergste lyding denkbaar blootgestel toe sy vir sowat twee weke met ernstige brandwonde geloop het.

Volgens die veeartsverslag is die brandwonde deur kookwater veroorsaak, en het dit septies geraak.

Parys DBV het ‘n klagte ontvang oor die hond. Met aankoms is die dier in erge pyn en met bosluiskoors gekry. Die hond is toe aan die DBV oorgeteken, maar weens die erns van die beserings en die hond se
lyding was daar geen ander uitweg as genadedood weens haar verskriklike lyding.

Die man is aangekla onder artikel 2.1 (a) en 2.1 (e) van die Dierebeskermingswet wat handel met die
verwaarlosing van diere, en diere-eienaars se plig om te verseker dat ‘n dier die nodige mediese hulp in nood kry.

Die DBV se opgeleide inspekteurs se primêre taak is om op te tree teen verwaarlosing en mishandeling van diere, en is dit ook die DBV-inspekteur se verantwoordelikheid om klagtes by die polisie te lê in sulke gevalle.

Hul taak is emosioneel baie uitdagend, omdat hulle gereeld die ergste gevalle van mishandeling by diere
sien.

Ongelukkig is daar steeds by die publiek onkunde oor wat die rol van ‘n DBV is. DBV-inspekteurs
doen inspeksies by onder meer plekke waar vee verkoop of aangehou word, troeteldierwinkels, en ook private wonings.

Hulle ondersoek klagtes van mishandeling en verwaarlosing, en hierdie ondersoeke neem baie tyd
in beslag om te verseker dat die nodige bewyse by die hof ingedien word vir die klagtes wat gelê word.

Daar is ook gereeld gevalle waar daar tot die redding van diere gekom word soos wat onlangs
gesien is toe die Parys DBV-personeel saam met die Parys Dierehospitaal personeel ‘n likkewaan
gehelp het wat geskiet is, asook ‘n valk met ‘n gebreekte vlerk, en ‘n verdwaalde otter.

Om verwaarlosing en mishandeling te verhoed hou die DBV gereeld bewusmakingsveldtogte
in ‘n gemeenskap oor die regte sorg vir diere, en help hulle op hierdie manier die boodskap by kinders
tuisbring hoe om in ‘n dier se behoeftes te voorsien.

Omdat die DBV geen staatsbefondsing kry nie, en heeltemal afhanklik is van die ondersteuning van ‘n
gemeenskap om die diens te lewer, is personeel min, en die area wat bedien word baie groot.

Parys DBV het slegs een inspekteur en twee veldwerkers. Daar is ook net een voertuig waarmee Parys DBV die Heilbron, Koppies, Parys, Vredefort en Lindequesdrift areas moet
bedien.

Gedurende Mei is sowat 2 488km gery alleenlik net na oproepe waar die DBV se hulp gevra is vir 230 vee,
58 wilde diere, 29 honde, 8 katte en 27 pluimvee. Gedurende Juniemaand is daar 1 164,9km gery om te reageer op oproepe vir 292 honde, 11 vee en 28 pluimvee. Dit sluit nie die nood in van ander diere waarna Parys DBVpersoneel daagliks moet ry nie.

Weens die groot area wat bedien word, kan daar nie onmiddelik aan elke klagte aandag gegee word nie, en
moet klagtes volgens nood geprioritiseer word.

Waarvoor is DBV-personeel nie verantwoordelik nie:
– Klagtes oor diere wat ‘n stoornis vir ander is. Hieraan moet die polisie en munisipaliteit aandag gee.
– Verwydering van dierkarkasse.
– In gevalle waar diere verkoop sou word, is dit nie onwettig om mak diere te verkoop nie, en het die DBV
daarom nie die jurisduksie om in sulke gevalle op te tree nie tensy daar kommer is oor die dier se welstand.

Hoe kan jy help:
As jy ‘n verlore dier in die straat kry, neem dit na die DBV-perseel in Parys se nywerheidsgebied pleks
daarvan om die DBV te skakel, of hou die dier in jou erf totdat die DBV op jou oproep kan reageer.

Ondersteun jou plaaslike DBV op enige manier wat jy kan, en vertel mense van die werk wat die DBV in jou gemeenskap doen, eerder as om nie-geverifieerde inligting te versprei.

Geldelike ondersteuning help, want brandstof en onderhoud vir die DBV -voertuig moet betaal word.
Hokke moet skoongehou word. Daar moet kos vir die diere gekoop word.
Veeartsrekeninge moet betaal word. Soos enige ander besigheid is daar maandelikse bedryfsuitgawes.

Geldelike bydraes kan in die volgende rekening betaal word: Parys
SPCA, Standard Bank, Tjekrekeningnommer 040 947 882, Takkode 051 001.

Parys DBV het tans ‘n behoefte aan die volgende:

  • Skoonmaakmiddel
  • Dipmiddel vir die diere
  • ‘n Tuinslang
  • Waspoeier vir die diere se beddegoed
  • Hondekos vir volwasse honde
  • Blikkieskos vir volwasse en baba hondjies
  • Blikkieskos vir volwasse katte en baba katjies
  • Skryfbehoeftes soos kramdrukkers en witbordpenne (swart en rooi)

Related Articles

Back to top button