Local newsNews

Mizelle hou Olimpiese Spele fakkel in Pau

Die fakkel sal Vrydag in die Franse hoofstad, wees vir die opening van die Olimpiese Spele.

Ver van haar tuisdorp Parys in die hart van die Vrystaat, het Mizelle Terre’Blanche die voorreg gehad om die fakkel met die Olimpiese vlam te kon vashou. Die fakkel het verlede Woensdag van Griekeland in die Franse hawestad, Marseille aangekom. Van hier is dit op ‘n aflos oor 12 000km geneem na verskeie dorpe, en sal die fakkel Vrydag in die Franse hoofstad, Parys, wees vir die opening van die Olimpiese Spele.

Die aflos het in Biarritz begin en by die dorpie Pau geeïndig waar Mizelle gevestig is. Mizelle dans vir die EBB Dance Company in Pau.

Sy vertel dat die Parc Beaumont afgekamp is met streng sekuriteit waardeur jy moes beweeg tot by die stalletjies waar allerlei Olimpiese Spele aandenkings te koop was. Hier het mense tou gestaan om die fakkel vas te hou. Op die grootskerm kon jy die aflos volg waar die fakkel in elke dorpie langs die roete oorhandig is, totdat dit uiteindelik in Pau aangekom het.

Die talentvolle Mizelle dans vandat sy drie jaar oud was. Haar uitsonderlike danstalent is gou raakgesien, en het ‘n rits van uitstaande prestasies gevolg. In 2023 het sy by die Dance World Cup waar sy Suid-Afrika verteenwoordig het, ‘n silwermedalje vir ballet, en goud vir haar liriese, kontemporêre en Jazz dansroetines verower. Meer as 120 000 deelnemers uit 52 lande van regoor die wêreld het deelgeneem.

Goue medalje wenners by die kampioenskap het ook die geleentheid gehad om aan die Gala-aand vir verskeie dansgenres deel te neem, en Mizelle is aangewys as die trofeewenner vir die algeheel beste Classical Senior Female, sowel as die trofeewenner vir die algeheel beste Theatrical Senior Female.

Op grond van dié besondere prestasies het sy ‘n beurs ontvang om in Frankryk te gaan dans en studeer.

Mizelle was verlede week ook in Italië waar sy genooi is na ‘n dans somerskool waar sy twee beurse ontvang het vir twee weke by ‘n dansskool in Hamburg, en twee weke by ‘n skool in Madrid. Sy het ook ‘n werkswinkel en oudisies in Italië bygwoon, en sou daarna na Praag vertrek. Vir Mizellle is haar prestasies nie net weens harde werk nie, maar ook te danke aan die ondersteuning van haar familie.

Related Articles

Back to top button