Local newsNews

Gestop vir ‘spoed’ toe kyk hy in pistool se loop vas

Publiek gewaarsku teen ‘Bloulig’ misdaad op R59

‘n Jong egpaar van Parys is dankbaar dat hulle leef nadat drie verdagtes se poging om hulle te kaap misluk het. Die voorval het Vrydagaand net na 19:00 op die R59 tussen Sasolburg en Parys, skaars 4km van die Truck Stop, gebeur. Die verdagtes was geklee in polisie-uniform, en het ook ‘n blou lig in hul voertuig tydens die voorval gebruik om die egpaar van die pad te dwing. Hulle is weg met die Claassen-egpaar se vuurwapen.

Polisiewoordvoerder, kapt Lorraine Earle, het die voorval bevestig en gesê dat die polisie klagte van gewapende roof en poging tot moord ondersoek. Dit was reeds die vierde soortgelyke voorval op dié pad die afgelope maand.

Die egpaar vertel dat hulle die aand saam met vriende in Vanderbijlpark geëet het, en op pad terug was na Parys toe ‘n silwerkleurige Audi A3 met ‘n flitsende blou lig en Gautengse nommerplate op hul afgejaag het. Hulle het stilgehou onder die indruk dat hulle vir spoed afgetrek word.

Twee het na die bestuurderskant van die voertuig beweeg en die man gevra waarom hy die spoedgrens oortree. Daar is ook gevra vir sy bestuurslisensie waarna een beduie het dat hy uit die motor moet klim. Hy is na die agterkant van die voertuig geneem waar hulle hom deursoek het. Sy vuurwapen is by hom gekry.
Toe hy weier dat hulle sy vuurwapen vat het een ‘n 9mm pistool uitgeruk en gesê dat dit ‘n kaping is. ‘n Derde man het by die passasierskant van die Prado gaan staan en die vrou beveel om agterin die Prado te gaan sit, en te maak of sy slaap. Intussen het sy twee makkers wat saam met haar man agter die Prado was, sy vuurwapen gevat. In die gestoei het die vuurwapen se magasyn uitgeval.

Hulle het hom na die Audi geneem en wou hom in die voertuig dwing. “Ek het besef hulle gaan my doodmaak en met my hande teen die Audi se dak vasgedruk. Ek het toe omgeswaai en die een wat steeds sy vuurwapen op my gerig het, met die elmboog onder sy ken geslaan. Hy het geval en met die val ‘n skoot afgevuur. Die koeël is tussen my arm en my sy deur. Ek kon die hitte van die patroon voel. Toe het ek besef – nou moet ek baklei. Ek het omgedraai en die ander een ook in die gesig geslaan.”

Die verdagtes het hierop vir hul makker by die Prado geskree om te kom help met die woorde – “This one is strong.” Dié het nader gestorm en op die man se rug gespring terwyl die ander gehelp het om hom teen die grond vas te druk.

Die slagoffer is met die pistool op sy neus geslaan. Hy kon egter wegkom van die mans en het na die teerpad gehardloop om verbygaande motoriste se aandag te trek. “Niemand het gestop nie. Ek het toe vir my vrou geskree om te ry, maar sy kon my nie hoor waar sy langs die Prado gestaan het nie. Met al die aksie het die verdagtes haar gelos en kon sy uit die motor klim”

Die verdagtes het weer op hom afgestorm en hom met die pistool geslaan. In die struweling is nog twee skote deur die verdagtes afgevuur wat hom gemis het.

Die derde verdagte het toe na die Audi gehardloop, waarskynlik om nog ‘n vuurwapen te kry. Die man kon egter daarin slaag om by die Prado te kom en agter die stuurwiel in te skuif, waarop die derde verdagte hom met ‘n pistool by die motorvenster kom dreig het dat hy hom gaan skiet.

“Ek het vet gegee en ‘n vriend wat lid is van die Vanderbijlparkse Gemeenskap Polisiëring Forum laat weet wat gebeur het. Ek het ook vir hom gesê dat hulle my vuurwapen het.” Die inligting is aan die polisie en verkeersbeamptes deurgegee.

Die verdagte voertuig is kort daarna op die R59 duskant Sasolburg opgemerk, maar die verdagtes het daarin geslaag om weg te kom. Behalwe vir die wond waar die verdagtes die man met die pistool geslaan het, is die egpaar nie beseer nie. Hulle sê hulle was nie bang of histeries tydens die voorval wat net minute geduur het nie, maar wil motoriste waarsku oor die gevaar.

“Ek word so kwaad as ek daaraan dink en is tog so dankbaar. Die kleinste dingetjie wat verkeerd geloop het, sou ons defnitief ons lewens gekos het,” het die vrou gesê.

Die belangrikste les is om nie net van die pad af te trek as jy ‘n blou lig sien nie- veral as jy bang of onveilig voel. Let op of die voertuig wat jou aftrek net ‘n blou lig binne die voertuig het. Verdagtes maak dikwels van hierdie ligte gebruik om hulself voor te doen as wetstoepassers.

Dit is altyd beter om te wys dat die persoon/persone wat jou sou aftrek jou moet volg na die naaste polisiestasie, of plek wat veilig is soos ‘n vulstasie waar daar sekuriteitskameras is.

Kapt. Earle het gevra dat enigeen wat die voorval gesien het of inligting het, die ondersoekbeampte, speur-kapt Gert Bruwer sal skakel op 082 466 8094. Die verdagte voertuig was ‘n gehuurde voertuig. In van die vorige voorvalle is ‘n Polo en BMW gebruik.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button