Local newsNews

Formidabele vrou van vele talente gegroet

Ria Alberts het geleef vir die fynskrif van die lewe - elke detail was vir haar belangrik.

Ria Alberts was ‘n fyn, talentvolle vrou wat jy altyd deur ‘n ring kon trek. ‘n Kranige kortafstand atleet en netbalspeler vir Noord-Vrystaat op haar dag. Iemand wat sonder opleiding die kuns van blommerangskik, en die maak van bruidsrokke met onderskeiding bemeester het.

Hulde aan dié formidabele vrou en jarelange Parysenaar wat in die oudrom van 88 jaar oorlede is, is gebring by die gedenkdiens vir haar op 5 Julie vanuit die AGS Sion-gemeente. Dieselfde gemeente waar haar pa, Willie, vir 45 jaar visevoorsitter was, en haar familiewortels oor jare geanker was.

Ria is in Parys gebore en het hier skoolgegaan. Sy het grootgeword op die plaas Oudewerf, en graag stories vertel oor die wonderlike, ongekompliseerde jare op die plaas, Sonder elektrisiteit, sonder ‘n motor, sonder geld, maar met onmeetbare liefde as gesin.

Sy trou met Leon nadat hulle mekaar by ‘n kerkbyeenkoms ontmoet het, en maak haar eie trourok, haar drie sussies se rokke, strooimeisierokke, rokke vir die blommemeisies, en doen ook die blomme vir die troue.

Die ruikers wat sy vir kerkdienste en troues gemaak het, sou jou asem wegslaan. Daar was nie internet om idees te soek nie. Sy was net besonder geseënd met kreatiwiteit. Boonop het sy ‘n oog vir dekor gehad.
Sy kon brei, teken, borduur, die lekkerste kos maak, en was mal oor tuinmaak.

Ria was veral bekend vir haar trourokke, en het vroeër jare ‘n trourokwinkel in Parys gehad.

Sy was elegant – ‘n regte lady. Iemand wat geleef het vir die fynskrif van die lewe – elke detail was vir haar belangrik. Haar meelewing met ander, styl en skoonheid het uitgestaan.

Die afgelope 24 jaar het sy by haar dogter, Elrinet Coetzee, en haar gesin in Potchefstroom gewoon wat Leon en Ria met liefde en deernis versorg het tot die einde toe. Leon is op sy en Ria se sestigste huweliksherdenking oorlede.

Haar kinders en kleinkinders was haar na aan die hart, en haar diep liefde vir die Here sal onthou word.

“Die grootste voorreg en eer in my lewe sal altyd wees: my ma is Ria Alberts,” het Elrinet in ‘n roerende huldeblyk by die gedenkdiens, gesê

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button