Local newsNews

R66 500 al in dorp se strate aan gate spandeer

Daar sal weer in September 'n groot slaggat-herstelprojek deur AfriForum in Parys geloods word.

Dis bakgat sonder gate! Dít kan motoriste beaam wat die vrugte pluk van AfriForum Parys se pogings om ‘n verskil te maak in die dorp se strate met slaggate wat gereeld deur dié tak se lede reggemaak word. Saterdag is daar in Eerstelaan en Schilbachstraat gewerk om gate toe te stop.

Sedert daar begin is om slaggate in die dorp reg te maak, is daar in totaal al 700 sakke teer van 20kg elk met ‘n totale gewig van 14 ton gebruik om meer as 1 000 slaggate toe te maak. Teen R95 per sak teer beloop die koste R66 500 wat alreeds deur AfriForum in die strate van Parys spandeer is.
Van die bydraes wat AfriForum ontvang kom 60% terug na die tak, en dit is met hierdie geld wat teer gekoop word.

Groot oppervlaktes met slaggate, kan egter nie op dié manier reggemaak word nie, sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak. “Behalwe dat dit nie effektief is nie, is die koste té hoog. Daarom fokus AfriForum op kleiner gate as voorkomende maatreël om te keer dat dit nie groter word nie,” sê Burger.

Daar sal weer in September ‘n groot slaggat-herstelprojek deur AfriForum in Parys geloods word.
Enige iemand wat wil aansluit by AfriForum of wat teer nodig het om self slaggate in woonbuurte te herstel, kan Schalk kontak vir meer inligting by 082 653 4281.

Related Articles

Back to top button