Local newsNews

Hulp broodnodig vir dié in nood

Jy kan jou bydrae afgee by die VVA-kantoor in Buitenstraat, Parys. Broodbydraes wat opgelaai moet word, kan met Sanette by 079 324 0603, of met Charisma by 082 680 8929 gereël word.

Wanneer dit winter is, is jy ekstra honger. Veral saans wanneer dit koud en donker is. Hoe bitter moet dit nie wees om ‘n kind honger bed toe te stuur, of sonder ontbyt skool toe?

Dit is waarom Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) die Broodjiedag-projek ‘n paar jaar gelede begin het.
Vanjaar word Broodjiedag op 25 en 26 Julie gehou.

Sanette Boonzaier, kantoorbestuurder by VVA Parys sê daar is voortdurend nood. In die afgelope drie maande is 3 423 etes daagliks by die organisasie se sopkombuis uitgegee. Daar is 32 komberse uitgegee, 271 stelle klere by die organisasie se Sakpas-winkel, en 173 stelle klere by die VVA-kantoor.

Altesaam 634 kosblikkies moes vir skoolkinders gepak word wat andersins nie ‘n broodjie vir pouse sou hê nie. Daar is ook 249 gesinskospakke uitgedeel.

Hierbenewens is daar die ernstige nood vir ‘n veiligheidshuis vir Afrikaans- en Engelssprekende kinders in die gemeenskap. In 2023 moes 64 kinders – van pasgebore babas tot 11 jaar – deur maatskaplike werkers van VVA Parys uit hul ouerhuise verwyder word weens verwaarlosing of mishandeling.
Daar is ook reeds kommer oor die aantal kinders wat vanjaar uit ouerhuise verwyder moes word.
Hoewel daar ‘n veiligheidshuis in die Tumahole-woonbuurt is, is daar nie ‘n soortgelyke veiligheidshuis vir die Parys en Vredefort se gemeenskappe nie. Hiervoor is nog minstens R500 000 nodig om ook in dié behoefte te kan voorsien, sê Sanette.

Jou donasie vir die VVA kan ‘n groot verskil maak, en selfs net ‘n brood kan help om vir iemand ‘n warm maaltyd die winter te gee.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button