Local newsNews

Diefstal vererger sukkelende munisipale dienslewering

Klinieke loop gereeld deur onder diefstal en vandalisme wat groot verliese veroorsaak vir departement gesondheid.

Gemeenskapslede het Dinsdag hul ontevredenheid gewys weens onder meer die gebrek aan water by die Thabang gesondheidskliniek in die Tumahole-woonbuurt.

Soos ander klinieke in Parys sukkel dié kliniek met water weens die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om volhoubaar water aan die dorp se inwoners te voorsien.

Dit veroorsaak geweldige frustrasie omdat water en krag noodsaaklik is vir klinieke om behoorlik te kan funksioneer.

Die watertekort en knaende kraprobleme in die dorp bring addisionele uitgawes vir die Departement van Gesondheid met noodkragopwekkers en watertenks wat by klinieke geïnstalleer moet word om ten spyte van die uitdagings ‘n diens te kan lewer.

Dit is egter nie net die gebrek aan munisipale dienslewering waarmee klinieke sukkel nie.

Misdaad het ‘n selfs groter probleem geword met twee batterye van die noodkragopwekker, en ‘n drukpomp vir die watertenk wat onder meer in die jongste voorval by die Thabang-kliniek gesteel is. Dit was reeds die vierde voorval vanjaar waar diefstalsake by die kliniek maandeliks gerapporteer is. Die vorige voorvalle was op 18 Februarie, 9 April, 5 Junie en 25 Junie.

By die Deneysville-kliniek is dieselfde scenario gesien met misdaad wat dienslewering kniehalter.

‘n Elektriese kontrakteur was reeds Dinsdag by die Thabang-kliniek om die nodige te doen om die noodkragopwekker weer aan die loop te kry, maar gemeenskappe sal moet help om die polisie se oë en ore te wees om diefstal te keer.

Related Articles

Back to top button