Local newsNews

Verdagtes vas na diefstal van beeste

Die verdagtes het Maandag voor die hof in Viljoenskroon verskyn.

Vyf verdagtes is Saterdag in die vroeë oggendure deur die polisie in hegtenis geneem vir die diefstal van 23 beeste op ‘n plaas net buite Viljoenskroon. Die veediewe het hulself in die lang arm van die gereg vasgeloop selfs voordat die eienaar van die beeste geweet het dat die beeste gesteel is.

Dit danksy inligting wat ontvang is, en uitstekende werk van die Viljoenskroon SAPD, die boeregemeenskap in die Viljoenskroon-distrik, hoofwegpatrollielede van Kroonstad, en lede van die polisie se Veediefstaleenheid in Heilbron.

Die gesteelde beeste is met ‘n vragmotor op die Viljoenskroon/Kroonstad-pad vervoer. Die voertuig is voorgekeer en twee van die verdagtes is daar gearresteer. Hoewel al die beeste in die vragmotor was, kon net vyf lewend herwin word. Die beeste het mekaar in die vragmotor vertrap.

Al die beeste was gebrandmerk en kon eienaarskap positief bevestig word.

Verdere inligting het die polisie toe ook op die spoor van die ander drie verdagtes gesit wat in ‘n bakkie saam met die vragmotor beweeg het. Hulle is in Kroonstad gearresteer.

Die verdagtes het Maandag voor die hof in Viljoenskroon verskyn. Die saak is uitgestel vir ‘n formele borgtog-aansoek. Die verdagtes is van onderskeidelik Orange Farm, Soweto en Viljoenskroon. Die waarde van die gesteelde beeste beloop nagenoeg R370 000.

Die naweek se arrestasie volg nadat 67 skape onlangs almal lewend herwin is nadat hulle op 28 Junie uit gemeenskapskrale in die Parys-distrik gesteel is.

Related Articles

Back to top button