Local newsNews

Taallimpiese Spele bied hope pret én toets jou taalvernuf

Dwarsdeur die kompetisietydperk sal daar daagliks geleenthede wees om aan aktiwiteite deel te neem of inskrywings in te dien.

Enkele dae voor die afskop van die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, word die dae getel vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se eie Taallimpiese Spele wat vir die eerste keer aangebied word.
Die FAK sal sy Taallimpiese Spele elke vier jaar aanbied.

Deelname is oop vir almal, van 10 jaar en ouer, wat lief is vir Afrikaans. Die kompetisie vind aanlyn plaas, met ‘n bykomende geleentheid wat die 3de Augustus sal plaasvind vir mense om in persoon te kan deelneem.

Deelnemers kan aansluit deur die registrasievorm in te vul, wat toegang tot die kompetisiewebblad op 25 Julie sal verskaf. Alle inligting sal per e-pos aan geregistreerde deelnemers gestuur word.

Die spele sal van 26 Julie tot 11 Augustus plaasvind, met aktiwiteite wat op verskillende dae oop- en toemaak. Elke aktiwiteit het ‘n vasgestelde tydsraamwerk vir voltooiing. Alhoewel dit nie verpligtend is om aan alle aktiwiteite deel te neem nie, verhoog dit deelnemers se kanse om die algehele wenner te wees. Deelname is gratis.

Dwarsdeur die kompetisietydperk sal daar daagliks geleenthede wees om aan aktiwiteite deel te neem of inskrywings in te dien. Beide die volwasse- en skolierafdeling se algehele wenner sal ‘n sertifikaat en medalje ontvang, saam met ‘n R500 Takealot-geskenkbewys.

Die FAK het baie gefokus op die ontwikkeling van spesifiek taal, waar taal vandaan kom en hoekom taal belangrik is. “Dit bevorder die taal en bied hope pret vir die kinders,” sê woordvoerder Lieandri Ackermann.
Barry Müller, hoof van nasionale projekte, sê die projek is die afskop van die FAK se Afrikaans 100-viering.
Deelnemers kan op die FAK-webwerf by https://projekte.co.za/afrikaans-amptelik-100/ registreer.

Inskrywings is reeds oop. Vir navrae kontak Lieandri Ackermann by lieandri@kultuurtuiste.org.za.

Related Articles

Back to top button