Local newsNews

Hospitaal weer operasioneel na brand

Die brand by die Phutholoha Distrikshospitaal in Ficksburg was die tweede brand by 'n staatshospitaal in die Vrystaat in net meer as 'n week.

Diepreiniging by die Phutholoha Distrikshospitaal in Ficksburg is voltooi  nadat ‘n brand Dinsdagaand in die hospitaal ontstaan het. Die 11 pasiënte in die hospitaal moes inderhaas geskuif word na nabygeleë hospitale, maar is intussen weer in die Phutholoha-hospitaal opgeneem.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaaste departement van gesondheid, het bevestig dat die hospitaal weer ten volle operasioneel is na die brand.

Mvambi het Dinsdag in ‘n verklaring gesê die brand het na bewering in ‘n afsonderingskamer begin waar een pasiënt was. Personeel aan diens het blitsig met die hospitaal se brandblussers die vlamme geblus, en was die munisipale brandweerdiens en nooddienste ook gou op die toneel om die situasie onder beheer te bring.

Niemand is  beseer nie en ‘n deeglike ondersoek na die brand sal gedoen word, het Mvambi gesê.

Hy het die departement se dank betuig teenoor die amptenare wat aan diens  was vir hul vinnige optrede, asook ander rolspelers vir die hulp wat verleen is.

Intussen is bevestig dat die Nasionale hospitaal in Bloemfontein steeds gesluit is na ‘n brand op 7 Julie by dié hospitaal. Die brand het buite die hospitaal begin en toe na binne die gebou versprei. Daar was 83 pasiënte in die hospitaal wat inderhaas na veiligheid geneem moes word.

Die departement van arbeid is steeds besig met sy ondersoek na die brand by die Nasionale Hospitaal.

Related Articles

Back to top button