Local newsNews

Poskantoor-teëls vertel dié dorp se storie

Hierdie teëls is destyds veral by staatsgeboue en polisiestasies gesien. Voorbeelde is die New Law Court in Port Elizabeth (1933), Burgersdorp Poskantoor (1933), Calvinia Poskantoor (1934) en die kindersaal in Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad. Van die besonderse teëlwerk is nog net sowat 100 oor in Suid-Afrika.

As jy ooit sou wonder hoe die daaglikse lewe in Parys vroeër jare was, ry weer ‘n slag by die dorp se poskantoor om, want die ses teëlpanele aan die straatkante van die gebou vertel ‘n besondere storie van die dorp en sy mense.

Een van die teëlpanele beeld byvoorbeeld die pont en kruising oor die Vaalrivier uit voor die brug, vandag onder Parysenaars bekend as die Potchefstroom-brug, in 1914 gebou is. Daar is ook ‘n voorstelling van die dorp se eerste stadsaal en die daaglikse lewe in Parys. Nog een van die teëls wys hoe die dorp oor jare ontwikkel het, en ‘n ander beeld die ontwikkeling van vervoer uit.

Die besondere teëlpanele is in 1936 deur The Ceramic Studio in Olifantsfontein vervaardig. Die kunswerke is die skepping van kunstenaar W Vann-Hall ( Florence Wilgeforde (Wilgy) Agnes Vann-Hall A.R.C.A. Elke teël is duidelik gemerk.

The Ceramic Studio het heelwat geboue in Suid-Afrika versier met die besonderse teëls, veral staatsgeboue en polisiestasies. Voorbeelde is die New Law Court in Port Elizabeth (1933), Burgersdorp Poskantoor (1933), Calvinia Poskantoor (1934) en die kindersaal in Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad. Van hierdie besonderse teëlwerk is nog net sowat 100 oor in Suid-Afrika. ‘n Kosbare erfenis wat bewaar moet word.

Die Parys Poskantoor-gebou is in 1936 opgerig volgens die Baker School-styl. William Benjamin Turner was vir die ontwerp verantwoordelik. Die poskantoor-gebou is ook volgens die tipiese styl van die destydse Departement van Publieke Werke, met soveel moontlik Suid-Afrikaans vervaardigde boumateriaal, gebou.

Die sierstene is volgens Engelse boustyl bekend as “English Bond” steenwerk.

Die skuinsdak, of te wel spitsdak, het in die middel ‘n vierkantige skoorsteen.

THE CERAMIC STUDIO
In 1906 begin Sir Thomas Cullinan (van Cullinan diamante) ‘n keramiekfabriek in Olifantsfontein en noem dit Transvaal Pottery. Hy laat kom keramiekkunstenaars uit Engeland om huishoudelike keramiekware te vervaardig.

Cullinan was ‘n delwer en stigter van die Premium Diamantmaatskappy. Sy maatskappy was die Consolidated Rand Brick and Lime Company Limited; Transvaal Pottery, Linnware studio, The Ceramic Studio.

Transvaal Pottery was vir Cullinan nie baie winsgewend nie as gevolg van goedkoper ingevoerde ware. Die fabriek sluit in 1914.
Cullinan het egter ‘n hele keramiekdorpie in Olifantsfontein gevestig, maar na die sluiting van die fabriek het die dorpie verlate geraak. In 1924 stel Ronald Cullinan, Thomas Cullinan se seun, op aandrang van Marjorie Short, drie keramiek-kunstenaars/kenners (oud-studente van die Durban School of Art) aan om ‘n nuwe keramiekfabriek op Olifantsfontein te begin genaamd, The Ceramic Studio. Hy stel die bestaande perseel tot hulle beskikking.

Marjorie Short, Gladys Short, Joan Methley en Audrey Frank het hulle beywer om keramiekware met ‘n outentiek Suid-Afrikaanse styl te skep.
Hulle werk het gou gewild geraak weens die uitstekende hoë kwaliteit en die geskiedenis elemente wat dit uitgebeeld het.

The Ceramic Studio het van 1925 tot 1942 keramiekware vervaardig, en is veral verantwoordelik vir besonderse panele in staatsgeboue en poskantore in verskeie dorpe onder andere Parys Poskantoor, asook honderde teëls by die “nuwe” Johannesburg treinstasie waar Suid-Afrika se geskiedenis vanaf Jan van Riebeeck se nedersetting aan die Kaap uitgebeeld word.
In 1931 bou Ronald Cullinan die huis, Sunlawns. Tans huisves hierdie huis voorbeelde van bykans elke tipe keramiekwerk wat hulle vervaardig het.

Die Tweede Wêreldoorlog het The Ceramic Studio laat swaarkry as gevolg van die tekort aan werkers, en die tekort aan ingevoerde klei en glasuring.
In 1942 neem Conrand The Ceramic Studio oor en verander die naam na Linnware Studio. Hulle vervaardig soortgelyke keramiekware as díé van The Ceramic Studio tot ongeveer 1962.

W. VANN-HALL
Florence Wilgeforde Agnes Vann-Hall (Wilgy Vann-Hall), die kunstenaar van Parys Poskantoor se teëlpanele, is in 1894 in Leicester Engeland gebore.
Sy ontvang haar opleiding by die Liverpool School of Art en in London Royal College of Art.

Wilgy spesialiseer in verfwerk en gebrandskilderde glaswerk.

In 1926 immigreer sy na Suid-Afrika, en deel ‘n studio in Durban met Mary Stainbank, ‘n mede-student, tot haar dood in 1981 (Durban). Sy is een van die vroue kunstenaars wat aangestel is deur Ronald Cullinan toe hy The Ceramic Studio begin het. Besonderse kunswerke het uit haar hande ontstaan. Haar handgeverfde teëls en panele wat die geskiedenis van Suid-Afrika uitbeeld, en die hoë kwaliteit werk het gelei tot vele opdragte, plaaslik sowel as in die buiteland.

Die uitsonderlike vroue van The Ceramic Studio het ten spyte van uitstekende en unieke werke, en groot kommersíële sukses, nooit werklik erkenning ontvang nie. Moontlik as gevolg van die patriargale siening van hulle tyd. Vrouens fisies werkend in oorpakke op steiers aan massiewe klipbeelde en ontwerpe was nie toe aanvaarbaar nie.

(Met dank aan Kobie Ströh vir die saamstel van die interessante artikel. Foto’s: Internet, Gys Ströh, Maart 2024)

Related Articles

Back to top button