Local newsNews

Kragtariewe onregmatig en ongeldig, maar hofstryd nog nie verby nie

NERSA en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) het Vrydag 28 Junie kort na die uitspraak verlof om appèl gedoen het teen die hofuitspraak.

‘n Groot oorwinning vir burgerregte is Vrydag deur AfriForum in die Pretoriase hooggeregshof behaal toe regter Irene de Vos in haar uitspraak bevind het dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se besluit om munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig én ongeldig is. Dit beteken dat die reguleerder geen aansoeke om kragtariefverhogings van munisipaliteite mag oorweeg tensy die vereiste kostestudies ook ingedien word nie.

Die regstryd oor kragtariewe is egter nog lank nie verby nie, met NERSA en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) wat Vrydag kort na die uitspraak verlof om appèl gedoen het teen die hofuitspraak.

Die saak volg nadat AfriForum vroeër vandeesmaand hul dringende aansoek by die hof ingedien het om te verhoed dat NERSA met die oorwegings voortgaan, aangesien ‘n Hooggeregshofbevel van Oktober 2022 vereis dat ‘n kostestudie as deel van munisipaliteite se aansoeke om tariefverhogings ingedien moet word. Dit word ook deur die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006 voorgeskryf.

AfriForum se argument was dat munisipale tariefaansoeke nie op akkurate en voldoende kostestudies gebaseer was nie – soos wat deur wetgewing vereis word en deur ‘n kennisgewing aan munisipaliteite in 2023 bevestig is. Die uitspraak beteken dat die energiereguleerder dus geen aansoeke om kragtariefverhogings van munisipaliteite mag oorweeg tensy die vereiste kostestudies ook ingedien is nie. Sodoende het die hof beveel dat munisipaliteite wie se kostestudies ontbreek sal moet voortgaan om kragtariewe te hef gebaseer op die bestaande tariewe wat vir die 2023/2024-boekjaar goedgekeur is.

Munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings vir die 2024/2025-boekjaar kan wel deur NERSA heroorweeg word mits die nodige kostestudies binne 60 dae vanaf die uitspraak ingedien word.

In die lig van NERSA se aansoek om verlof tot appèl beteken dit dat NERSA se besluit egter geld, en kragverspreiders die goedgekeurde tariewe kan toepas totdat daar uitslag is op die appèlaansoek.

Die verhoging wat deur NERSA goedgekeur is, is 12,7%.
NERSA sê nuwe munisipale tariewe het op 1 Julie in werking getree, en kan munisipaliteite in die lig van die appélaansoek nie gekeer word om die hoër tariewe nou te hef nie, omdat so ‘n aansoek die uitvoering van ‘n hofbevel opskort hangende die uitkoms van die appèlaansoek.
Vrydag se uitspraak was kort nadat NERSA die goedgekeurde tariewe van 178 munisipaliteite aangekondig het waarvan net 66 kostestudies gedoen het.

Morné Mostert, bestuurder van Plaaslike regeringsake by AfriForum het Vrydag gesê die gebruik van ‘n kostestudie vir tariefverhogings is van kritieke belang omdat dit ‘n duidelike uiteensetting gee van wat munisipaliteite se tariewe moet wees om die diens behoorlik te kan lewer en netwerke in stand te hou.

“Munisipaliteite wat nie kostestudies het nie, se aansoeke word in hierdie stadium bloot geskoei op ‘n beraming van wat dit kos om die diens te lewer. Aansoeke om tariefverhogings moet egter gedoen word op akkurate berekende syfers wat sal verseker dat billike tariefverhogings aan verbruikers deurgegee word,” verduidelik Mostert. Hy het bygevoeg die hofsaak was in belang van verbruikers gedoen, en om regverdigheid en deursigtigheid in die goedkeuring van munisipale kragtariewe te bevorder.

AfriForum het intussen ook in antwoord op die aansoek om verlof tot appèl gesê dat die burgerregte-organisasie die aansoek dringend ondersoek en tans besig is om alle wetlike meganismes te oorweeg wat toepaslik is om die hofbevel af te dwing terwyl die appèl hangend is.
“Op hierdie stadium is ons regspan besig met die oorweging en het reeds briewe aan Salga en NERSA gestuur. Wanneer ons terugvoer van ons regspan kry, sal ons dit aan ons takke en lede kommunikeer,” verduidelik Mostert.

Gazette is ook vandeesweek ingelig van ‘n brief van die DA-koukus se segspersoon vir finansies, raadslid Arnold Schoonwinkel, aan Ngwathe se waarnemende munisipale bestuurder, Dr Tseko Mothamaha, waarin gewys word op die dringendheid van die kostestudies met betrekking tot kragtariewe wat binne 60 dae vanaf Vrydag 28 Junie gelewer moet word. Rdl Schoonwinkel wys daarop dat eksterne kundigheid moontlik nodig sal wees om die sperdatum te haal wat deur die DA ondersteun sal word sou dit nodig wees. Daar word voorts gesê dat die DA reeds in 2022 en 2023 aangedring het op die nodigheid van die kostestudies.

Ook die Vryheidsfront Plus se raadslid Philip van der Merwe het die skrywe van die DA ondersteun en gesê dat hy en die VF Plus al vir lank vir die kostestudies vra. Van der Merwe wys daarop dat ‘n firma ‘n voorlegging in die verband ‘n tyd gelede aan Ngwathe gemaak het. voorlegging tot nou toe nie deur die munisipaliteit gekry kon word nie.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button