Local newsNews

SA Landbou bly die ruggraat van ekonomiese groei

Die belangrikheid van landbou strek verder as blote produksie. NAMPO Kaap speel 'n belangrike rol in landelike ontwikkeling en die bevordering van sosiale groei.

Die Overberg is besig om haar mooiste klere aan te trek vir NAMPO Kaap wat vanjaar van 11-14 September 2024  deur Graan SA en Bredasdorp Park NPC op Bredasdorp Park, aangebied word.

2024 vier die 5de aanbieding van NAMPO Kaap en ook die 30-jarige herdenking van die eerste Meganisasie Dag wat in 1994 plaasgevind het. NAMPO Kaap het sedert sy ontstaan die voortou geneem om vir die laaste 5-jaar landbou op sy beste in die Kaap voor te stel, en vir produsente en die gemeenskap ‘n platform te bied wat innovasie, tegnologie en netwerk geleenthede soos min, te bied.

Dié jaar se tema, Landbou: Die Ruggraat van Ekonomiese Groei.

“Die belangrikheid van landbou strek verder as blote produksie. NAMPO Kaap speel ‘n belangrike rol in landelike ontwikkeling en die bevordering van sosiale groei. Deur produsente met moderne toerusting en kennis te bemagtig, kan ons produktiwiteit en inkomste ’n hupstoot gee, wat lei tot meer lewendige en robuuste landbou sektor. Boonop maak landbou se integrasie met ander sektore, soos hernubare energie en biotegnologie, nuwe weë oop vir ekonomiese diversifikasie en innovasie,” het Dr Dirk Strydom, Graan SA se hoof van NAMPO, Bemarking en Navorsingskoördinering gesê.

Volgens Henk Aggenbach, voorsitter van die Bredasdorp Park direksies, is daar 38 addisionele 15x20m uitstalruimtes op die terrein, langs die proefpersele ingerig, om in die vraag na addisionele uitstalruimte te voorsien. Nuwe masjinerie en tegnologie word jaarliks by NAMPO Kaap bekend gestel, en danksy die vergrote uitstalarea, kan nuwe uitstallers met gemak gehuisves word. Verder kan battery-aangedrewe motorfietse, quads, en voertuie op die demonstrasie baan besigtig word.

Skaaphond Ekspo
Besoekers aan NAMPO Kaap kan vanjaar ook uitsien na ‘n Skaaphond Ekspo wat van Woensdag, 11 tot Vrydag 13 September in die BKB-veesentrum aangebied word. Hierdie program, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Skaaphond Vereniging, behels lesings, demonstrasies en kompetisies. Die finaal van die jaarlikse Nasionale Toyota Jong Afslaers kompetisie word op Vrydag 13 September gehou, en tydens dié geleentheid sal die Skaaphond-veiling plaasvind.

Lipizzaners
Die wêreld-beroemde  Suid-Afrikaanse Lipizzaners sal weer daaglikse vertonings lewer. Hierdie wit hingste sal besoekers betower met hul asemrowende bewegings op die maat van bekende musiek.

‘n Fees van Fynbos
Besoekers aan NAMPO Kaap word elke jaar verras met ‘n fees van Fynbos. Marjolijn Malan se indrukwekkende blommerangskikkings in die Voermol-saal sal beslis nie teleur stel nie. Die Neptun Fynbos uitstalling in die Neptun Saal beloof om vanjaar, onder leiding van Jan Hagen, weer die asems weg te slaan met ‘n uitstalling wat die verskeidenheid plante endemies aan die streek, so na as moontlik in hulle natuurlike habitat uitbeeld. Verskillende biome sal uitgebeeld word deur onder andere, proteas, speldekussings, verskeie ander fynbosspesies asook Aalwynsoorte wat in die omgewing voorkom.  ʼn Teetuin maak deel uit van die uitstalling.

Vroueprogram
Vanjaar se vroueprogram beloof om weer stampvol te wees met bekende gaste, en beslis iets om na uit te sien! Die gewilde NAMPO Kaap instap-skoonheidsalon sal ook weer die skoner geslag van kroontjie tot toontjie bederf.

Sien jou daar!
Toegangskaartjies is vanaf 1 Julie 2024 aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za, met afslag op toegangsfooie vir aanlynaankope, teen R80 vir volwassenes en R50 vir skoolgaande kinders. Kaartjies by die hekke sal te koop wees teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders. Voorskoolse-kinders kom gratis in. NAMPO Kaap duur van Woensdag, 11 tot Vrydag, 13 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 14 September van 08:00 – 14:00. Besoekers kan die Kaap Agulhas Toerismekantoor kontak vir verblyf by 028 424 2584 / 082 896 2225 of www.overberg-info.co.za

Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2024, besoek www.nampokaapco.za, kontak Chrystal van Wyk by 028 050 1385 of stuur ‘n e-pos aan admin@expo.org.za.

Related Articles

 
Back to top button