Local newsNews

Ongelooflike musiekaanbieding vanaand in Vredefort gehoor – jy moet kom luister

FAK-Jeugsimfonieorkes skop opwindende toer af

Vanaand, Vrydag 28 Junie om 17:30 vir 18:00 kry Parysenaars, inwoners van Vredefort en omliggende dorpe die uitsonderlike kans om die FAK se jeugsimfonieorkes  hier op eie bodem in die platteland te hoor speel in die pragtige NG Kerk in Vredefort. ‘n Besondere voorreg wat nie aldag gebeur nie, en wat jy beslis nie kan misloop nie. As jy dié orkes vroeër vanjaar op Udolpho hoor speel het sal jy weet jy moet vanaand gaan luister

Parys en Vredefort spog self met besondere talentvolle instrumentaliste wat ook vanaand in ‘n item saam met die orkes gehoor kan word.

Kaartjies kos slegs R120 vir volwassenes en R80 vir kinders en sal by die deure beskikbaar wees.

Daar sal ook heerlike warm sjokolade en koffie te koop wees om jou warm te hou.

Op die vooraand van hul interprovinsiale toer, het die jong musikante van die FAK se Jeugsimfonieorkes (JSO) Donderdag 27 Junie ’n intieme konsert aangebied in die Voortrekkermonument se Senotaafsaal en besoekers kon nie genoeg kry nie.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se JSO het sedert hul ontstaan in 2022 al gehore regoor die land bekoor en met hiérdie toer na Vredefort, Kroonstad en Sasolburg kry die orkeslede weer die geleentheid om te wys hoe talentvol die jong musikante van Suid-Afrika is.

Jaco van Staden, dirigent van die JSO, sê hierdie toer is gereël nie net om die jong musikante meer blootstelling te gee nie, maar om orkesmusiek weer lewe te gee in die platteland.

“Die idee vir die toer is gebore na ons vroeër vanjaar in Parys op die Udolpho Rivierplaas opgetree het,” vertel Van Staden.

“Ons het toe weer besef hoe uitgehonger mense eintlik is vir orkesmusiek. Toe besluit ons om ’n toer in die platteland te reël om ons JSO bloot te stel aan ’n breër gehoor én om ons musiek na mense toe te bring wat nie gereeld die geleentheid het om hierdie tipe vertonings by te woon nie.”

Van Staden sê verder dat die gemeenskap se reaksie ’n sprekende bewys is van hoe musiek mense bymekaar kan bring.

“Tydens die einste vertoning in Maart was ’n musiekonderwyseres uit Parys, Erna Rademan, ook in die gehoor. Sy was so beïndruk dat sy nie twee keer gedink het toe ek haar vra om te help met hierdie toer nie.”
Rademan se studente sal tydens die JSO se eerste vertoning vanaand by die NG Kerk Vredefort self ’n paar items lewer.

Lieandri Ackermann, projekbeampte van die FAK, en orkesbestuurder sê hulle is baie opgewonde oor die toer.

“Die kinders het al baie hard geoefen en ons sien uit om vir die inwoners van die Vrystaat te wys hoe talentvol ons jong musikante is,” sê Ackermann.

“Dit is merkwaardig om te sien wat hulle op sulke jong ouderdomme kan doen.”

Sedert sy stigting in 2022, het die JSO gegroei tot ’n volwaardige orkes met 24 lede waarvan die jongste musikant, Christiaan Wilsenach, nou eers 14 is.

Wilsenach, ’n leerling van die Hoërskool Menlopark in Pretoria, sê hy is baie opgewonde vir die geleentheid wat die toer bied.

“Ek sien baie uit na die toer, maar veral na ons optrede in die Ettiene Rossouw-teater. Ek was, toe ek baie klein was, daar toe die teater net oopgemaak het en my ouers vertel my dat ek selfs tóé opgewonde geraak het in die teater en oor die musiek,” sê Wilsenach.

Rieghardt Strauss (15), en van die JSO se talentvolle tjellospelers, is van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria en sê, nes sy mede-orkeslid, dat hy baie uitsien daarna om saam met die JSO klassieke musiek na ’n breër gehoor te neem.

“Ek sien uit om vir mense te wys wat musiek vir jou kan doen. Musiek is vir my een van die mooiste dele van die mensdom en ek dink musiek gee mens hoop. Ek sien veral uit daarna om ons musiek na mense toe te bring wat nie noodwendig altyd die geleentheid het om ons te hoor speel nie.”

Die FAK pak jaarliks projekte aan wat nie net ons ryk musiekerfenis uitbou nie, maar ook die taal- en die geskiedkundige erfenis, en daarom het die FAK besluit om tydens die toer ook die Nasionale Vrouemonument en Boyden Observatory in Bloemfontein te besoek.

Die FAK wil jonk en oud uitnooi om die Jeugsimfonieorkes te kom ondersteun en
saam met die orkes die mooi van plaaslike musiek te vier.

Vrydag 28 Junie | 17:30 vir 18:00 | NG Kerk Vredefort, Markstraat
Sondag 30 Junie | 11:00 | Moedergemeente, Kroonstad, Kerkstraat
Sondag 30 Junie | 15:00 | Etienne Rousseau-teater, Sasolburg, John Vorsterlaan

Related Articles

 
Back to top button