Local newsNews

MooiParys maak mooi

Om hierdie werk te kan doen, is MooiParys as nie-winsgewende organisasie afhanklik van die gemeenskap se ondersteuning

MooiParys het vandeesweek begin om met die hulp van werkers van Vaal de Grace, gate te grawe vir die laning witstinkhoutbome wat by die ingang van die dorp se ou begraafplaas geplant sal word. Die begraafplaas se ingang is ook skoongemaak en die hele begraafplaas sal mettertyd weer onder hande geneem word, sê Braam Cilliers op wie se inisiatief MooiParys vier jaar gelede begin is.

Die 40 bome vir die laning is aan MooiParys geskenk deur Willie en Beatrice Nortman. Inwoners kan van hierdie bome borg teen R100 per boom. Die gate is reeds daar – al wat jy moet doen wanneer jy ‘n boom geborg het, is om dit te plant en van tyd tot tyd nat te maak, en soms kunsmis te gee. Die fondse wat met die borg van die bome ingesamel word, sal deur MooiParys gebruik word vir die werk wat gedoen word om die dorp weekliks skoon te hou en te verfraai.

Oor die afgelope jare kon die handewerk van MooiParys al op verskeie plekke in die dorp gesien word, maar dit het ook ander inwoners geïnspireer om te help mooimaak en skoonmaak. Kyk gerus hoe netjies lyk die dorpsingange, hoe skoon is die dorp se hoofstraat, en hoe netjies word die Saligna en Weber park gehou.

Braam Cilliers en Paul Noome van MooiParys saam met die MooiParys en Vaal de Grace werkers wat gehelp het om die gate vir die bome te grawe.

Om hierdie werk te kan doen, is MooiParys as nie-winsgewende organisasie afhanklik van die gemeenskap se ondersteuning, want die arbeid wat weekliks gebruik word om skoon te maak, kos geld. So ook die brandstof vir grassnyers, vullissakke en onkruiddoder. ‘n Skoon dorp is nie net tot voordeel van sy inwoners nie, maar ook vir besoekers aan die dorp wat die dorp se ekonomie aan die gang hou.

As jy ‘n boom wil borg of belangstel om ‘n geldelike of ander bydrae vir MooiParys te maak, stuur ‘n WhatsApp na Braam by 072 779 4079 of Paul Noome by 084 818 3123, of gebruik die volgende bankbesonderhede: Absa, takkode 005920, rekeningnommernommer 410 5545 894. Enige bydrae maak ‘n verskil.

Related Articles

 
Back to top button