Local newsNews

A-pokke: Nog ‘n sterfte bevestig

Nog geen sprake van reisbeperkings nie, sê departement

Nog drie positiewe gevalle van a-pokke  in Suid-Afrika, is vandag, Dinsdag 25 Junie, deur die Departement van Gesondheid bevestig.

Die departement het ook laat vanmiddag in ‘n verklaring ‘n sterfte weens die siekte bevestig. Die 40-jarige oorledene was van Ladysmith in KwaZulu-Natal, en is by sy huis oorlede. Toetsresultate het op 23 Junie bevestig dat die man a-pokke gehad het. Hy het nie hospitaalbehandeling ontvang nie, het die departement se woordvoerder, Foster Mohale, gesê.

Twee van die drie jongste gevalle wat bevestig is, is in Gauteng en sluit in ‘n 43-jarige man wat op 22 Junie met die siekte gediagnoseer is by ‘n private gesondheidsfasiliteit in Johannesburg, en ‘n 29-jarige man wat op 21 Junie met die siekte gediagnoseer is in ‘n gesondheidsfasiliteit in Mamelodi. Beide mans het simptome van die siekte gehad maar het geen internasionale reisrekord nie.

Suid-Afrika het reeds 16 bevestigde gevalle van die siekte sedert die uitbraak in Mei 2024. Hiervan is 8 gevalle in KwaZulu-Natal, sewe in Gauteng, en een in die Wes-Kaap.  Al die bevestigde gevalle is manlike pasiënte tussen die ouderdom van 23 en 43 jaar.

Suid-Afrika se getal sterftes weens die siekte staan nou op drie, het Mohale gesê.

Die departement het in sy verklaring vrese besweer van moontlike reisbeperkings of inperkings weens die uitbraak van a-pokke, en gesê dat die Wêreld Gesondheidsorganisasie nog geen aanbevelings in die verband gemaak het nie. Reisigers uit lande waar daar endemiese a-pokke uitbrake is, is egter aangeraai om sou hul simptome van die siekte ervaar, of siek voel, onmiddellik mediese hulp te kry, en gesondheidsbeamptes in te lig oor die land waarheen gereis is.

Mense is ook gewaarsku om sou jy simptome hê onmiddellik professionele mediese hulp te kry, en nie self-diagnose en tuis medikasie te probeer nie.

Die departement wys daarop dat enigeen a-pokke kan kry ongeag van ouderdom of geslag. A-pokke kan voorkom en beheer word, en daar is behandeling vir matige sowel as ernstige gevalle. Mense met ‘n hoë risiko sluit in diegene met chroniese siektetoestande soos HIV, TB en diabetes.

Wat is a-pokke?

Sporadiese uitbrake van die siekte word sedert 2023 in die Demokratiese Republiek van die Kongo gesien. Die laaste geval van die siekte in Suid-Afrika is in 2022 aangeteken.

A-pokke is ‘n  seldsame virusinfeksie by mense wat deur die a-pokke virus (MPXV) veroorsaak word. Gevalle van die siekte het toegeneem sedert die 1980’s, en word geglo dat inentings teen pokke mense vroeër meer bestand teen a-pokke gemaak het wat deur ‘n soortgelyke virus as pokke veroorsaak word.

Kleiner knaagdiere en eekhoring is die vernaamste draers. Daar is twee soorte a-pokke – Sentraal Afrika a-pokke en Wes-Afrika a-pokkke.

Die siekte word oorgedra deur kontak met ‘n besmette persoon of dier, of besmette oppervlaktes wat die liggaam binnedring deur ‘n stukkende plek op die vel, inaseming of die slymvliese van die oë, neus of mond.

Mens-tot-mens oordragsyfers is gering, en glo navorers dat mens-tot-mens oordrag eerder gebeur deur inaseming as deur direkte kontak met liggaamsvloeistowwe of indirekte kontak deur klere.

Simptome is soortgelyk aan griep en sluit in koors, spierpyne, kortasem, moegheid,  en geswelde limfkliere  asook ‘n uitslag wat blasies vorm. Vandat jy aan die siekte blootgestel was totdat simptome gesien word, kan wissel van 5 tot 21 dae. Simptome duur tipies 2 tot 4 weke.

A-pokke word dikwels verwar met siektes soos masels, waterpokkies en selfs pokke.

 

Related Articles

 
Back to top button