Local newsNews

Gevandaliseerde beeld na drie jaar herstel

Die beeld is met die herstel ook geskuif

In die hoofstraat van Carolina staan die standbeeld van veldkornet Adriaan Jacobus de Lange vandag weer trots sy plek vol, na dié beeld onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gerestoureer en verskuif is.

Die Carolina Burgermonument, wat sedert 1930 voor die NG Kerk staan, is in Junie 2021 gevandaliseer en na byna drie jaar is dié besonderse monument uiteindelik tot sy vorige glorie herstel en op 31 Mei, weer amptelik deur die FAK onthul. Die monument staan nou op ’n ander deel van die kerk se gronde.

“Lizelle van Aswegen, ’n plaaslike sakevrou en eienaar van verskeie gastehuise, het
’n ruk na die beeld aanvanklik gevandaliseer is, op die kop afgekom in die hoek van
een van haar erwe. Sy het kontak gemaak met die FAK en uiteindelik kon ons met
die proses begin om hierdie waardevolle stuk geskiedenis te herstel.”

Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, sê die standbeeld het ’n ryk geskiedenis wat Ermelo en Carolina verbind en vertolk die verhaal van die Slag van Spioenkop.

De Lange was ’n Boerekryger wat van 1882 tot 1883 as deel van die Mapoch-
kommando oorlog gevoer het, asook tydens die Anglo-Boereoorlog in 1899. Hy was
op 24 Junie 1900 die held van die Slag van Spioenkop, waartydens hy kop- en
armwonde opgedoen het.

Die NG Kerk Carolina se geskiedenis is net so sterk deurweef met die geskiedenis
van die oorlog met die hoeksteen wat reeds in 1888 gelê is.

Tydens die onthullingsgeleentheid het prof. Fransjohan Pretorius ’n interessante
lesing gegee oor die rol van die Carolina-kommando in die Anglo-Boereoorlog, tog
vertel hy staan die manne se ervaring vir hom meer uit as die historiese feite van die
Slag van Spioenkop.

“Hierdie geleentheid en die geskiedenis wat dit voorafgegaan het, leer ons vandag
om in ons geloof te verdiep. Die oorlog het die manne en vroue wat daaraan
deelgeneem het, geleer om in geloof te verdiep en daarom is dit so belangrik om
hierdie mense te eer en te onthou, want dit leer ons om vandag ook vas te klou aan
ons geloof en die hoop vir ’n beter toekoms.

Dr. Tiaan Schutte het op sy beurt gepraat  oor die ongevalle van die Carolina-kommando tydens die oorlog van 1899 tot 1902.

“Cornelis Potgieter (17) was die jongste wat gesneuwel het op kommando. Dertien van
die burgers wat gesneuwel het se name staan op die monument. Carolina kan trots
wees op wat hul bydrae was vir die oorlog,” sê Schutte.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het ook die geleentheid
bygewoon en vertel waarom dit belangrik is om in vandag se tye steeds die bydrae
van dié wat voor ons gekom het, te onthou én getrou te onderhou.

“Vandag staan ons hier om ’n monument te onthul en ons erfenis te vier, tog dink ek
is dit belangrik om te let hoeveel kinders en jongmense hier by ons is. Wat my betref,
is hulle vandag die belangrike gaste, daarom wil ek hulle in die oë kyk en met hulle
praat,” sê Langner.

“Ek was ’n paar weke gelede in die VSA waar jy oorweldig word deur museums en
trots op hul museums. Dit het my weer laat dink aan die Bybelteks ‘my erfenis is vir
my mooi’.”

Dié teks is vir Langner die rede waarom organisasies soos die FAK saam met
gemeenskappe werk om hul erfenis te bewaar,

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button