Local newsNews

Spesiale stemme: Stemproses vlot by tehuise en stemlokale

Onthou dat jy slegs kan stem by die stemlokaal waar jy geregistreer is.

Hoewel enkele stemlokale in Parys ‘n paar minute laat oopgemaak het vir spesiale stemme wat vandag, Maandag 27 Mei, en môre, Dinsdag 28 Mei uitgebring word, het die stemproses by die meerderheid tehuis besoekpunte en stemlokale in Parys tot dusver vlot verloop sedert daar om 09:00 vanoggend met die stemproses begin is.

By al die stemlokale is enkele mense gesien wat bietjie vir bietjie by die stemlokale opgedaag het. Kiesers met wie die Gazette gepraat het wat reeds hul kruisies getrek het, was dit eens dat die stemproses maklik en vinnig was, en dat hulle die stembriewe duidelik kon lees en maklik verstaanbaar was. Enkeles moes wel omdraai wat nie geregistreer was vir spesiale stemme, of wat nie by die stemlokaal was waar hulle geregistreer is nie.

By tehuise vir bejaardes was daar deurgaans polisie teenwoordigheid om ‘n oog oor die stemproses te hou, en is bejaardes wat moeilik beweeg behulpsaam en vriendelik gehelp deur personeel van die tehuise en OVK personeel.

Bejaardes by die AMOT tehuis wag hul beurt af om te kan stem. 

Bejaardes van Najaarsrus wat geregistreer het vir spesiale stemme, was ook vanoggend gereed om te stem en is vriendelik bygestaan deur OVK-personeel. 

Dit was teen 12:00 vanmiddag, Maandag 27 Mei, nog nie duidelik hoe laat met tuisbesoeke in Parys begin sou word nie.

Daar is vanjaar 69 partye op die nasionale, provinsiale en streeks kandidatelyste wat almal meeding om die 400 plekke in die Nasionale Vergadering, en die 487 plekke in die provinsiale wetgewers van die land se nege provinsies.

Op die provinsiale lyste is 65 partye met ‘n totaal van 6 915 kandidadate wat in die wedloop is vir die wetgewers in die onderskeie provinsies. Van die kandidate is ses onafhanklik wat beteken dat hulle nie aan ‘n politieke partye verbind is nie.

Wat baie belangrik is met vanjaar se verkiesing is dat die proses sedert die vorige nasionale verkiesing aangepas is, en  kiesers nou slegs sal kan stem by die stempunt waar hulle geregistreer is. Dit is ‘n wesenlike verandering met kiesers wat voorheen by enige stempunt in die land vir lede van die parlement, en by enige stempunt in die provinsie waarin hulle geregistreer is vir lede van die provinsiale wetgewers kon stem.

In effek beteken dit dus as jy versuim het om jou adres tydens die registrasieperiode op die kieslys te verander as jy sedert die vorige verkiesing verhuis het, jy sal moet reis na die stempunt waar jy geregistreer is as jy wil stem.

 

Stemlokale vir spesiale stemme:

  • Stemlokale vir spesiale stemme is Maandag 27 Mei en Dinsdag 28 Mei oop van 09:00-17:00.
  • Slegs kiesers wat vir spesiale stemme geregistreer is mag op hierdie twee dae stem.
  • Jy sal net toegelaat word om te stem by die stemlokaal waar jy geregistreer is.
  • Moenie wag tot op die nippertjie om te gaan stem nie. Gaan so vroeg as moontlik op Maandag of Dinsdag. Dit voorkom dat jy in lang rye moet staan net voordat stemlokale sluit,  en maak die taak van alle betrokkenes by die stemproses soveel makliker. (As jy na die aantal tuisbesoekpunte en spesiale stemme kyk wat geregistreer is, sal jy verstaan dat hoe vroeër jy gaan, hoe beter)
  • Kiesers wat voorheen by die Forum-gebou gestem het, stem nou in die sysaal van Parys se stadsaal.
  • Kiesers wat voorheen by Basa Park gestem het, stem nou by Silhouette. Gebruik die boonste hek.

Wat neem jy saam?

  • Jy moet jou ID boekie of ID kaart saamneem na die stemlokaal. Onthou dat geen paspoort, bestuurslisensie of ‘n afskrif van jou ID aanvaar sal word nie.
  • Jy mag jou eie pen gebruik en kan jy ‘n swart pen saamneem na die stemlokaal.
  • Goeie raad is ook om saniteermiddel saam te neem omdat baie mense deur die stemlokale sal beweeg.

Tuisbesoeke

Vir geregistreerde tuisbesoeke sal kiesbeamptes dié kiesers by hul huise besoek sodat hul kan stem. Kiesers wat vir tuisbesoeke geregistreer is, is kiesers wat nie instaat is om ‘n stemlokaal te kan besoek nie, en moet jy die volgende onthou.

  • Politieke partye mag saam met OVK kiesbeamptes na tuisbesoekpunte beweeg, maar jy mag vra dat slegs kiesbeamptes in jou woning toegelaat word.
  • Maak seker jy is tuis op die dae wat tuisbesoeke deur kiesbeamptes gedoen word, want as jy nie tuis is nie, sal hulle nie kan terugkom om jou ‘n geleentheid te gee om te stem nie.
  • Jy mag slegs stem by die adres wat opgegee is by die OVK, dit beteken dat al sou jy gou by die bure gaan inloer, kan kiesbeamptes nie jou toelaat om by die bure se adres te stem nie.
  • As jy nie tuis was nie, sal jy op 29 Mei saam met ander kiesers by die stemlokale moet stem. 
  • Kiesbeamptes moet voor jou die stembriewe uitskeur en stempel.
  • Wanneer jy gestem het, sal stembriewe in geseëlde koeverte geplaas word.

Tuisbesoekpunte en spesiale stemme in Ngwathe – so lyk die syfers

Parys Tuisbesoeke – 1011

Parys Spesiale Stemme Stemlokale – 1182

Vredefort Tuisbesoeke – 418

Vredefort Spesiale Stemme Stemlokale 393

Heilbron Tuisbesoeke – 351

Heilbron Spesiale Stemme Stemlokale – 608

Koppies Tuisbesoeke 182

Koppies Spesiale Stemme Stemlokale 473

Edenville tuisbesoeke 142

Evenville Spesiale Stemme Stemlokale 112

Lees die stembriewe noukeurig 

  • Lees die stembrief noukeurig. Omdat daar soveel partye geregistreer is vir vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesing mag dit dalk verwarrend wees, en is die party kentekens baie klein op die stembriewe. Daarom moet jy baie mooi kyk.
  • Bejaardes of mense met swak sig mag ‘n kiesbeampte vra om hul te help lees, sou jy sukkel om duidelik te kan sien op die stembrief.
  • Sou jy ‘n fout gemaak het op jou stembrief, mag jy vra vir ‘n ander stembrief.
  • Maak seker jy maak jou kruisie netjies in die blokkie by die betrokke party/kandidaat vir wie jy sou stem. Stembriewe met kruisies wat oor meer as een blokkie getrek word, word as bedorwe stembriewe beskou wat beteken dat dit nie getel kan word nie.

So werk dit met stembriewe

  • Jy ontvang drie stembriewe. Twee van hierdie stembriewe is vir die Nasionale Vergadering (NV) en die derde stembrief vir provinsiale wetgewers.
  • Een van die twee nasionale stembriewe is ‘n landwye stembrief wat regoor die land dieselfde sal wees en die name van die partye wat deelneem aan vanjaar se verkiesing sal aandui, terwyl die ander ‘n streekspesifieke stembrief  is wat ook die name van onafhanklike kandidate, sal bevat as daar sulke kandidate sou wees.

Die kieswet is gewysig om vir vanjaar se verkiesing vir die eerste keer ook voorsiening te maak vir onafhanklike kandidate wat nie vir ‘n politieke party staan nie, en vir individuele setels in die NV meeding.

Veiligheid tydens die verkiesing

  • Wetstoepassers sal voortdurend ‘n oog hou oor stemlokale en kan jy dus ‘n sterk polisie teenwoordigheid vir die duur van die verkiesing te wagte wees.
  • Onthou om jou motor te sluit wanneer jy na die stemlokaal gaan en om nie waardevolle items in jou motor te laat nie. Maak ook seker jou woning is gesluit en alarm geaktiveer wanneer jy na die stemlokaal gaan.
  • Gaan met die minimum persoonlike besittings na die stemlokaal. Sodoende is dit veiliger en maak die risiko minder vir goedere wat jy in die stemlokaal kan vergeet.

 

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button