Local newsNews

Tooi Turkoois en wys so jou omgee vir bejaardes

Omgee vir ons bejaardes stop egter nie hier nie,  sê AMOT se matrone Theresa Broodryk. "Hierdie is 'n uitreik na die bejaarde gemeenskap"

‘n Spesiale uitreikaksie waarmee Parysenaars hul omgee vir bejaardes prakties kan wys, word vir die volgende maand (15 Mei tot 15 Junie) met die Tooi Turkoois-veldtog moontlik gemaak.

Die landwye veldtog vir NHSV (Nederduits Hervormde Sustersvereniging)-tehuise  vir bejaardes is ter bewusmaking van bejaardesorg.

Vanjaar word elke tehuis, apteek, restaurant, gastehuis, hardewarewinkel, of watter besigheid of instansie jy ookal by betrokke is, uitgedaag om die veldtog wat ook ‘n fondsinsamelingsaksie is, te ondersteun.

In Parys is die veldtog ten bate van AMOT.  Die tehuis kry geen subsidie nie, en is enige toiletware vir die bejaardes, koekies wat saam met teetyd bedien kan word, of selfs skenkings van nie-bederfbare voedsel en eiers altyd welkom.

Omgee vir ons bejaardes stop egter nie hier nie,  sê AMOT se matrone Theresa Broodryk. “Hierdie is ‘n uitreik na die bejaarde gemeenskap”

Tooi daarom jou winkel, restaurant, huis, kantoor of gastehuis met turkoois lappe of strikke vir die maand, of reik uit enige van ons tehuise vir bejaardes met ‘n spesiale bederfpakkie of lekker eetdingetjie vir ‘n bejaarde.
Een van die grootste geskenke wat jy vir ‘n bejaarde kan gee is jou tyd. Gaan drink ‘n koppie tee by ‘n bejaardes in jou omgewing, of vra by jou naaste tehuis vir bejaardes of daar bejaardes is wat nie besoek ontvang nie, of eensaam is, by wie jy tyd kan spandeer.
Jou finansiële ondersteuning vir tehuise vir bejaardes in hierdie moeilike ekonomiese tye is ook baie nodig, omdat soveel bejaardes en tehuise sukkel om maandelikse verpligtinge na te kom.
Hoërskool Parys se leerders het reeds die afgelope week ‘n fondsinsameling vir bejaardes van AMOT gehou, terwyl die kleuters van Noag se Arkie Vrydag aangetrek het soos ouma en oupa. Verteenwoordigers van AMOT het die kleuterskool besoek, en het die kleuters vir hulle gesing en vertel van die spesiale oupas en oumas in hul lewens.

Verskeie besighede waaronder Rivershed & Schwims Local Choice Pharmacy, Die Koffiekan, Parys-rolbalklub, NG Kerk-Wes Jukskeispan, Parys Golf & Country Estate, die Graad R-sentrum het naas Noag se Arkie en Hoërskool Parys reeds hul steun vir die veldtog gegee.

Daar is soveel maniere hoe jy kan deelneem aan die Tooi Turkoois-veldtog. Kom ons wys ons ondersteuning vir ons dorp se bejaardes.

Related Articles

Back to top button