Local newsNews

Skokkende rioolstorting by Ngwathe se pompstasies

Van hierdie rioolwater loop direk in die Vaalrivier in.

Vir minstens vier maande al loop rioolwater in die Vaalrivier in waar Parys se suiweringsaanleg water onttrek. Dit nadat ‘n elektriese paneel by die Oudewerf rioolpompstasie gesteel is en steeds nie vervang is nie. Ironies genoeg is daar juis by dié pompstasie 24 uur sekuriteit deur ‘n eksterne sekuriteitsmaatskappy wat deur die Ngwathe Plaaslike munisipaliteit aangestel is.

Die rioolwater wat hier uitloop loop onder deur die pad in die oorloop van ‘n spruit in vanwaar dit dan in die rivier beland.

Die skokkende werklikheid is dat dié pompstasie een van drie van Parys se grootste rioolpompstasies is, wat tans nie na behore kan funksioneer nie.
Rdl. Saal de Jager het met sy oorsigbesoek aan van die rioolpompstasies oor die naweek gevind dat naas Oudewerf pompstasie, nog twee van die dorp se groot rioolpompstasies by Schonkenville en Mbeki onderskeidelik, ook staan.

Die swak instandhouding by veral die Mbeki-rioolpompstasie is skokkend, sê hy. Siwwe word nie gereeld skoongemaak nie wat veroorsaak dat die rioolafval oorstroom en in die veld inloop. Van die elektriese bedrading is gesteel ten spyte daarvan dat ook hier ‘n sekuriteitswag is.

Die skokkende rioolstorting by die Mbeki rioolpompstasies. Die foto’s wys ook die toestand waarin die rioolpompstasie tans is. Foto’s: Verskaf

Rioolwater van die Schonkenville pompstasie loop in die veld in en beland uiteindelik in ‘n dam agter Schonkenville. Mettertyd sal van hierdie rioolwater ook in die rivier inloop as dit baie reën, waarsku hy.

Die situasie by Parys se hoof rioolpompstasie die afgelope minstens twee maande is nog meer kommerwekkend met die rugsteun kragopwekker by die rivierpompstasie wat nie nou werk nie. Dit beteken dat wanneer daar ‘n kragonderbreking is, rioolwater hier direk in die Vaalrivier inloop. Boonop is hier ook geen rugsteun pomp nie.

Talle mangate loop oor en is dit net die Thambo en Thokoloho rioolpompstasies en ‘n paar kleiner rioolpompstasies wat nog werk, het rdl. De Jager gesê,

Vir jare al veg nie net hy nie, maar ook organisasies soos Vaal Action Group (VAG), Save the Vaal Environment, Save Ngwathe en AfriForum onverpoosd om Ngwathe te kry om sy knaende rioolstorting in die Vaalrivier stop te sit, en is dié munisipaliteit al selfs hof toe gevat oor die storting by veral die Sandgat in Rotarylaan wat vir jare sporadies gebeur. Maar nie eens die vroeëre hofsaak wat Save the Vaal Environment teen Ngwathe gebring het oor die rioolstorting, of die strafregtelike klagtes wat verlede jaar deur AfriForum teen die toe waarnemende munisipale bestuurder van Ngwathe gebring is, het al genoeg tande kon wys om Ngwathe te kry om sy huis in orde te kry nie.

In Junie 2023 moes Departement Waterwese en Sanitasie die Ngwathe munisipaliteit opdrag gee om plan te maak met die oorloop van ‘n rioolmangat by die Sandagat wat direk in die Vaalrivier ingeloop het. In 2022 is ‘n verstopping van ‘n riool mangat tussen Tumahole en Schonkenville eers na twee weke se skandelike rioolstorting oopgemaak. Die rioolwater het toe in ‘n kanaal ingeloop wat weer in die Rooidam ingevloei het, en ook die Mimosa-spruit besoedel het wat in die Vaalrivier inloop.

In Julie 2020 het Gazette gerapporteer oor bloederige rioolwater wat toe ook uit die verstopte mangat by die Sandgat in die Vaalrivier ingeloop het. VAG se rekords het gewys dat dieselfde mangat in daardie jaar ook in Februarie, Maart en Junie oorgeloop het. Toe al het ook die DA en die Vryheidsfront Plus dringende ingryping bepleit en is selfs ‘n skrywe aan adjunkpresident David Mabuza gerig om te vra dat aksie geneem word.

Munisipaliteite se storting van riool in die Vaalrivier is sedert Januarie vanjaar weer uitgewys as een van die grootste redes vir die kommerwekkende toename van waterslaai en hiasinte op die rivier.

Waterkenner, prof. Anthony Turton het vroeër met verwysing na die toename van waterslaai en hiasinte gesê dat die trofiese status van die Vaalrivier dui op hoë vlakke van voedingstowwe, tipies fosfaat en nitraat, wat gewoonlik met rioolterugvloeistowwe geassosieer word. Turton sê in ‘n plasing wat hy op Facebook gemaak het dat die belangrike les vir Suid-Afrika is dat geen eutrofiese stelsel nog ooit effektief hier gerehabiliteer kon word wanneer die proses eers begin het nie – selfs nie eens met die bes moontlike wetenskap, ingenieursvernuf of tegnologie nie.

Hy waarsku verder dat ons ons eie drinkwaterstelsel met onbehandelde riool besoedel wat ‘n groot ekonomiese impak op die lang duur gaan hê op veral ook die toerismebedryf waarvan Parys afhanklik is.

Die oormatige groei van hierdie plante in die Vaalrivier kan lei tot ‘n reeks ekologiese probleme. Terwyl daar geskarrel word om die waterslaai en hiasinte krisis aan te spreek, waarsku organisasies soos Vaal River Rats SA en SAVE the Vaal Environment egter dat die eintlike oorsaak van die probleem – roolstorting – aangespreek moet word.

Een van die voorstelle wat rdl. De Jager lank reeds voor vra is dat Ngwathe ‘n onderhoudspan moet saamstel om voltyds pompe by die rioolpompstasies in al die Ngwathe dorpe na te gaan.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button