Local newsNews

Two Oceans gee langasems die wind van voor

Taai, maar deur en deur elke kilometer die moeite werd wanneer jy oor daardie eindstreep hardloop

Dit word beskou as een van die mooiste marathons ter wêreld. Opwindend, uitdagend met tot 700 m wat jy in hoogte klim. Uitmergelend met ‘n stormsterk suidooster wat die Kaap van Storms sy naam gestand laat doen het. Rondom Muizenberg en Vishoek, en toe weer reg van voor waar hy kom opvang het met die langasems op Chapman’s Peak.

‘n Roete met die beeldskone Kaapse natuurprag wat jou neem van Newlands, om Muizenberg, Houtbaai, Vishoek, die tawwe Constantianek en Kirstenbosch, om binne die sewe uur afsnytyd die eindstreep by UCT te haal.

Nagenoeg 11 000 atlete wat jaarliks die 56 km ultramarathon aanpak, en sowat 16 000 wat jaar na jaar vir die 21 km wegspring.

Vyf Parysenaars was vanjaar onder die deelnemers vir die 56 km. Hulle is Lorette Pretorius (04:56:05), Tara Walmsley (05:28:05), Wiekes Coetzer (06:22:08), Joseph Stemere (04:53:09) en Stephen Phetla (06:08:05). Rocco Pretorius (02:00:34) het die 21 km voltooi.

Lorette en Tara het saam geoefen en ook heeltyd saam gehardloop. Dit was Lorette se vyfde Two Oceans en Tara se eerste. ‘n Ongelooflike ervaring vir hulle.

Vir Rocco was dit ‘n familie-ding met sy suster, swaer en skoondogter wat almal deelgeneem het. Rocco het reeds drie ultras gedoen, en was dit sy vierde 21 km wat hy vanjaar saam met sy swaer aangepak het.

Taai, maar deur en deur elke kilometer die moeite werd wanneer jy oor daardie eindstreep hardloop, vertel hulle. Daarmee stem Wiekes saam. Hy kon sy tyd wat hy verlede jaar gehardloop het verbeter om klaar te maak in 6:22:08. Nou wag die Comrades wat hy vanjaar vir die eerste keer sal hardloop.

Die opdraandes was minder erg as wat hy verwag het, gesels Wiekes, maar die draaie na Constantia, en Chappies was ‘hectic’ met die wind, sê hy. Ten spyte daarvan is hy meer as tevrede met sy tyd, gegewe die min oefentyd wat hy gehad het.

Wiekes sê dankie aan Pierre Fourie wat gehelp het met sy voorbereiding en JN Solutions Africa wat sy tekkies en Comrades inskrywingsgeld geborg het.

Related Articles

Back to top button