Local newsNews

‘Begrafnis’ vir dienslewering gehou

AfriForum sê hy het al male sonder tal sy hulp aan die munisipaliteit aangebied.

Die AfriForum-tak in Parys het vandag, Woensdag 17 April, ’n spreekwoordelike begrafnis vir dienslewering gehou, aangesien dié dorp en talle ander onder die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gebuk gaan onder swak dienslewering. Dit kom ná vele pogings van die tak se kant af om afsprake met die burgemeester en waarnemende munisipale bestuurder te maak om swak dienslewering te bespreek, sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

“Die tak wou ook graag tydens só afspraak hulle hulp aan die munisipaliteit aanbied om hul las te verlig, sê hy.

’n Pikswart kis, wat die verval in die dorp simboliseer, is na die munisipale gebou geneem.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het daar verduidelik dat dienslewering vandag begrawe word aangesien daar nie meer skoon, lopende water, elektrisiteit of ordentlike paaie in dié dorp is nie. Die Vaalrivier is ook vol riool, die rioolwerke laat veel te wense en selfs die kanale wat vir besproeiing gebruik moet word is vol riool, het sy gesê.

Jaco Grobbelaar plak ‘n huldeblyk aan dienslewering vas teen die kantoordeur van die waarnemende munisipale bestuurder van die Ngwathe munisipaliteit.

Dié tak het  geëis dat mnr. Mokete Phele sy bedankingsbrief moet indien. “Mnr. Phele het in Februarie verlede jaar gesê dat hy sal bedank as die inwoners van dié munisipaliteit nie binne ses maande water het nie,” is vanoggend gesê.

Na afloop van die demonstrasie het lede van die Parys-tak gewys dat hulle nie net hande gevou sal sit en wag vir die munisipaliteit om hulle pligte na te kom nie, en self inisiatief neem. Stoptekens is opgerig  en randstene is in die hoofstraat geverf om dit netjies te laat vertoon.

“Dis jammer dat ons vandag hierdie demonstrasie moes doen om reaksie van die munisipaliteit te kry. Die Ngwathe-munisipaliteit se enigste kommer is om ’n salaris elke maand te kry, verder voel hulle ’n veer oor hulle inwoners. Ons hoop dat die regte mense sal intree, maar intussen sal ons self moue oprol,” sê Pretorius.

“Ons het nou al male sonder tal ’n helpende hand na die munisipaliteit uitgesteek. Ons sal egter voortgaan om selfdoenaksies aan te pak om die dorp reg te ruk,” sê Burger.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, het die munisipaliteit  dienslewering die doodskoot toegedien in dié dorp toegedien en moet die bestuur tot verantwoording geroep word.

Related Articles

Back to top button