Local newsNews

Duisende Vrydag vir Kruistog verwag

Weke se saamwerk om die dorp skoon te maak en reg te maak vir wanneer Vredefort sy hart en strate oopmaak vir mense van oral om Paasfees op besondere wyse te vier.

Die gemeenskap van Vredefort het die afgelope naweek hande gevat vir die kruisbou-projek waarmee 400 kruise gemaak is vir die dorp se derde Kruistog wat môre, Vrydag, 29 Maart, gehou word.

Vanjaar word 3 000 mense by dié besondere Paasfeesviering verwag wanneer mense met hul kruise die 3 kilometer sirkelroete deur die dorp sal stap vir ‘n besondere Via Dolorosa-ervaring hier in die hart van die Vredefort Koepel. Bring jou eie kruis of neem een van die kruise wat deur die gemeenskap gemaak is.

Kosstalletjies sal reeds vanaf 09:00 by die Vredefort-sportgronde oop wees met allerlei lekkernye, en begin die voorprogram om 10:30 met sang deur Lizette Combrink. Om 11:00 word die verrigtinge amptelik geopen, gevolg deur lofprysing en aanbidding saam met Andries D’Alebout en Richan Brussow, tot wanneer nagmaal om 11:40 gebruik sal word. ‘n Hommeltuig-foto van die kruis-formasie op die rugbyveld sal dan geneem word, en vertrek mense om 12:00 op die Kruistog. Die roete word teen ‘n gematigde pas gestap sodat oud en jonk kan bybly en neem ‘n uur om te voltooi.

Daar is voertuie beskikbaar vir mense wat nie kans sien om die roete te stap nie.

Langs die roete sien jy uitbeeldings van die lewe en bediening van Jesus, en voorstellings van Sy gelykenisse. Boere rondom Vredefort stuur jaar na jaar hul sleepwaens dorp toe sodat die verskillende stasies langs die roete op dié sleepwaens uitgebeeld kan word, en dit duidelik sigbaar kan wees tydens die massa-optog.

Die foto’s is geneem tydens vorige jare se Kruistogte in Vredefort. Foto’s: Verskaf

Na die Kruistog wat eindig by die dorp se sportgronde, kan daar saamgekuier word. Hierdie is ‘n gemeenskapsprojek. Gratis vir enigeen om by te woon en aan deel te neem. Daar is ook ‘n gratis aandenking vir elkeen wat die Kruistog meegemaak het om hul te herinner aan dit waaroor Paasfees gaan. Al waarvoor jy sal betaal is as jy die kosstalletjies by die sportterrein wil ondersteun.

Voorsiening word gemaak vir ‘n beskermde area waar mense teen ‘n fooitjie hul kinders vanaf 10:00 onder toesig kan los. Daar sal ook ‘n spesiale kinderprogram wees, en die kinders gaan hul eie kruise maak.

Die Kruistog is ‘n projek van die gemeenskap van Vredefort, maar dit is meer as wat jy op 29 Maart met die Kruistog in Vredefort sal beleef. Dit is ‘n dorpopheffingsprojek, ‘n Projek waarvoor daar vir weke lank duisende plastiekblomme gevou is vir die vlot wat die wederkoms voorstel en wat aan die voorpunt van die opgtog sal wees.

Weke se saamwerk om die dorp skoon te maak en reg te maak vir wanneer Vredefort sy hart en strate oopmaak vir mense van oral om Paasfees op besondere wyse te vier.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button