Local newsNews

Emosionele intelligensie – dit is waarom dit so belangrik is vir jou kind

Dis is onmoontlik om jou kind en ander se emosies te erken alvorens jy nie self eers leer om jou emosies te verwoord nie.

’n Mens se IK (intelligensiekwosiënt) is nog altyd as deurslaggewend beskou vir kinders se prestasie, maar deesdae lyk dit asof emosionele intelligensie (EI) al hoe meer gesien word as die belangrikste bepaler vir sukses. Emosionele intelligensie bevorder goeie en blywende verhoudings, leersukses en vooruitgang.

Jy word nie daarmee gebore nie, maar dit kan beslis aangeleer en ontwikkel word. En dit is waar ouers, onderwysers en versorgers ’n groot rol kan speel om die kind te help om homself te leer ken, homself te aanvaar en positief oor homself te voel.

Om nie bang te wees om te waag om dit waarna hy strewe te verwesenlik nie.

 Wat is emosionele intelligensie dan?

Dit is die vermoë om jou eie emosies te erken en te reguleer, maar ook om die emosies van ander rondom jou, te verstaan sodat jy met empatie kan reageer, jouself kan reguleer om by omstandighede aan te pas en stres te hanteer en veral om jouself te motiveer.

Emosionele intelligensie dra ook by tot suksesvolle sosiale interaksie en konflikhantering.

’n Emosioneel intelligente persoon ken sy sterk en swak punte, maar het die insig en selfvertroue om dit te hanteer.

Hoe lyk ’n emosioneel stabiele kind?

’n Kind wie se emosionele intelligensie goed ontwikkel is, ken homself, kan sy gevoelens verwoord, het ’n goeie selfbeeld en weet hoe om met sy maats om te gaan.

Hy kan sy beurt afwag, hy deel maklik sy speelgoed en hou daarvan om sy maats te help. Hy het gewoonlik ook die vermoë om konflik, hartseer, woede en teleurstelling te hanteer, juis omdat hy sy eie emosies verstaan en daarom oor die emosionele vaardighede beskik om homself te reguleer. Oor die algemeen is gedragsprobleme ook minder.

So ’n kind het respek vir ander se gevoelens en waardes. Omdat die kind ook seker is van homself, sal hy nie maklik negatief beïnvloed word nie – en sal beslis nie in die vuur spring omdat sy maatjie dit doen nie. Kortom, ’n kind wat sy emosies onder beheer het, dink voordat hy doen.

Rol van die ouer

Dis is onmoontlik om jou kind en ander se emosies te erken alvorens jy nie self eers leer om jou emosies te verwoord nie. Jy mag maar emosie wys, al is dit ook negatiewe emosies. Hoe jy daarop reageer, is wat belangrik is, m.a.w. die gedrag wat jy openbaar moet steeds aanvaarbaar wees. Dus:

  • Jy mag maar vir jou kind sê jy is kwaad en teleurgesteld, maar doen dit op ’n kalm wyse. Gil en skree is onaanvaarbaar en gaan beslis nie die beste uitkoms bewerkstellig nie.
  • Deur met insig na ander te kyk, kan jy jou kind leer om die verskillende emosies raak te sien.
  • Maak seker jy luister mooi wanneer jou kind vir jou sê hoe hy voel sodat jy hom dan op ’n eenvoudige manier kan leer hoe om te reageer.
  • Leer jou kind om eers te dink hoe om te reageer.
  • Moedig hom aan om oplossings te kry en uiting te gee aan sy gevoelens.
  • Leer jou kind dit is normaal om negatiewe emosies te ervaar en dat hy nie hoef skuldig te voel daaroor nie.
  • Seuns moet juis aangemoedig word om te sê en te wys hoe hulle voel – hulle mag maar huil.

 

En laastens

 “Jy kan nie jou emosies kies nie, maar jy het wel ‘n keuse hoe jy daardie emosies gaan gebruik en daarop reageer.” Wys en sê gerus wat en hoe jy voel, maar doen dit met insig en respek teenoor ander en ook jouself.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button