Local newsNews

Dienslewering kniehalter besigheid vir klein dorpe

Sonder ingryping van die nasionale regering voorsien ek nie dat 'n oplossing gevind sal kan word nie

Meeste inwoners van Heilbron het skiellik sedert 13 Maart weer na maande redelik konstante watertoevoer gekry. Dit nadat Rand Water sonder kennisgewing of verduideliking die watertoevoer na die dorp verhoog het na ongeveer 8,4 Ml per dag.

Volgens ‘n verklaring wat op 1 Maart deur die waterverskaffer uitgereik is, was Heilbron se toe reeds beperkte watertoevoer met ‘n verdere 20% ingekort. Dit was weens die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se wanbetaling van sy uitstaande skuld aan die waterverskaffer wat gesamentlik sowat R66 miljoen beloop.

Heilbron word deur Rand Water van water voorsien en is deel van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit.
Rand Water het reeds op 13 Desember Heilbron se watertoevoer verminder van ‘n normale 8 megaliter water gemiddeld per dag, na ongeveer 4,6 megaliter per dag.

‘n Waterlesing geneem op 6 Maart vanjaar het daarop gedui dat water toe teen ‘n skamele 3,8 megaliter per dag voorsien was.
Dit het meeste inwoners en besighede feitlik sonder water gelaat. Tussen 7 en 12 Maart was die toevoer egter deurlopend weer ongeveer 5,2 Ml per dag.

Beurtkrag en die dorp se waternood kos Clover, een van Heilbron se groot nywerhede miljoene per jaar.
Bo en behalwe die brandstofkoste wat ongeveer R3 miljoen ‘n jaar beloop om kragopwekkers aan die loop te hou, veroorsaak wateronbrekings verdere verliese as gevolg van onder meer produkverlies en addisionele arbeidskoste.

“Dit is tans bitter moeilik om nuwe besigheid na kleiner dorpe te bring as gevolg van die onvoorspelbaarheid van dienste soos water en krag,” sê Steven Velthuysen, bestuurder regs-sekretariële en menslike hulpbronbestuur by Clover.

Clover en sekerlik ander besighede ook, hanteer die huidige beurtkrag en waterkrisis na die beste van hul vermoë deur gebruik te maak van alternatiewe metodes vir die water- en kragonderbrekings, het hy Dinsdag aan Gazette gesê.

Die Vryheidsfront Plus se rdl. Philip van der Merwe sê sover hy kan vasstel, is daar steeds nie voldoen aan Rand Water se eis dat Ngwathe sy lopende rekening gereeld betaal, en ‘n afbetalingsplan vir die agterstalliges skuld beding en nakom nie.
Hy sê dit is daarom onduidelik waaraan die huidige onverwagte ‘normale’ watertoevoer te wyte is.

“Wanneer na die breër prentjie gekyk word twyfel ek sterk oor Rand Water se vermoë om volhoubaar water te kan voorsien, en is ek bevrees dat ‘beurtwater’ waarskynlik steeds inwoners se voorland kan wees. Hy het inwoners daarom aangeraai om water steeds spaarsaam te gebruik. Rand Water het reeds in sy verklaring van 1 Maart aangedui dat watertoevoer na wanbetalende munisipaliteite soos Ngwathe verder gesny sal word as munisipaliteite bly versuim om hul skuld te betaal en afbetaalplanne te beding.

Heilbron se maandelange waternood het verlede week daartoe gelei dat leerders van die Sandersville Gekombineerde skool vroeër huis toe gestuur is weens die ernstige watertekorte, sê Robert Ferendale, ‘n DA-raadslid van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit. Ferrendale sê sy party het ook die afgelope week vrae gerig aan die Ngwathe munisipaliteit se waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Teboho Manele, oor of ‘n afbetalingsplan vir Ngwathe se agterstallige skuld voorgelê is.

Ferrendale sê die krisis die afgelope maande was so erg dat sommige dele se waterdruk so laag was dat krane dolleeg was. Hy sê die dorp se waterprobleme is die produk van wanbestuur wat totaal voorkom kon word.

Ngwathe vorder tans volgens die jongste syfers kontantvloeigewys slegs ongeveer 40% van sy begrote inkomste in, hoofsaaklik omdat baie min inwoners hul erfbelasting, rioolgelde, vullisverwyderingsgelde, waterverbruik en selfs elektrisiteitsgebruik betaal. Gebrugde elektrisiteitsmeters is ‘n groot probleem en die munisipaliteit beskik eenvoudig nie oor die wil of vermoë om die probleem aan te spreek nie, sê hy.

“Om te voldoen aan Rand Water se eis dat die lopende rekening gereeld betaal word en ‘n afbetalingsplan vir die agterstallige skuld beding en nagekom word, is eenvoudig onhaalbaar gegewe Ngwathe se huidige finansiële krisis.Sonder ingryping van die nasionale regering voorsien ek nie dat ‘n oplossing gevind sal kan word nie” sê rdl. Van der Merwe verder.

Rdl. Van der Merwe het op 16 Januarie die waterkwessie met Ngwathe se uitvoerende burgemeester opgeneem en na geen reaksie van haar, ook ‘n skrywe aan die minister van waterwese en sanitasie gerig.

In sy antwoord het die minister aangedui dat Ngwathe nooit op Rand Water se verminderingskennisgewing van Desember 2023 gereageer het nie, en dat Rand Water gevolglik aangeneem het dat Ngwathe die vermindering aanvaar.

Die korrektheid van die bewering, wat die burgemeester betwis, kon tot hede ook nie bevestig word nie.

“Die versuim van die minister spesifiek om my vrae te antwoord oor die vermoë van Rand Water om volhoubaar water aan sy verbruikers te kan lewer, wek groot kommer” sê rdl. Van der Merwe,”veral omdat Rand Water verlede naweek aangekondig het dat verskeie toevoerpunte wat water aan Tshwane Metro voorsien, gesluit sou word waar reservoirvlakke ‘n laagtepunt van 30% bereik het,” sê hy.

Related Articles

Back to top button