Local newsNews

Boere-gholfdag maak harte oop vir Parys

Dankie aan elke uitstaller, borg en deelnemer wat kom deel het in die pret.

Boere van die Parys Distriks Boere Unie, hul besigheidsvennote en borge het soos die afgelope bykans twee dekades weer hul harte oopgemaak vir die gemeenskap van Parys met die Case Weiveld Gholfdag. Die gholfdag was ten spyte van ‘n baie uitdagende landboujaar, besonder goed ondersteun, en is op 1 Maart op die Vaal de Grace gholfbaan gehou met ‘n Shotgun spelformaat.

Naas die dag se gholf, prysuitdeling en veiling, is daar ook heerlik gekuier na die dag met ‘n spitbraai en optrede van die gewilde sanger, Appel. Case IH, Case Construction en die Cairo Group was vanjaar se hoofborg, maar is dit jaarliks boere se verskaffers, die oop hand van borge, en die gees waarmee spelers deelneem aan die dag, wat bydra tot die sukses daarvan.

Jaap van der Westhuizen van die Cairo Groep vertel dat die gholfdag meer as 16 jaar gelede die eerste keer gehou is met die gedagte om mense in nood te help, veral waar ingrypende mediese behandeling nodig is wat nie altyd in die land beskikbaar is nie. Na die sukses van die eerste gholfdag, het die dag oor die jare gegroei, maar het die behoefte verander soos die jare aangestap het. As jy kyk na hoe baie plattelandse dorpe oor die afgelope jare verval het, veral wat dienslewering en armoede betref, moes daar opnuut gekyk word na wat nodig is spesifiek in die Parys-gemeenskap, sê hy.

Hoewel dit steeds ‘n boerevereniging inisiatief is, is dit verder gevat om te kyk na die behoeftes van skole, kerke, tehuise vir bejaardes en mense in nood in die gemeenskap van Parys. ‘n Behoorlike behoeftebepaling word deur ‘n groep dames van die Boerevereniging in samewerking met die gemeenskap gedoen. Uit die opbrengs van die dag gaan 50% van die inkomste na die boerevereniging om daar hulp te verleen, terwyl 50% teruggeploeg word in die gemeenskap van Parys waar die behoefte die nodigste is.

Die dag is heelwat groter as ander gholfdae, maar kan tereg gesê word dat dit meer is as ‘n gholfdag vir die boeregemeenskap. Dit is ‘n dag vir Parys en sy mense waarmee hande gevat word om ‘n verskil te maak.

Geluk aan Cheetah Millings wat die 2024 wenners was, HS Supplies wat die oulikste speletjie vir die dag kon uitdink, die Senwes-span wat die beste spangees vir die dag gehad het, CASA IH wat bekroon is vir die beste uitstalling, en Koepel Abattoir wat gespog het met die lekkerste eetgoed vir die dag.

Daar was vanjaar in totaal 164 spelers.

Dankie aan elke uitstaller, borg en deelnemer wat kom deel het in die pret. As jy graag betrokke wil raak, skakel Jaap van der Westhuizen by 082 3357 990.

Die hoofborg vir die 2025 Weiveld Gholfdag is Cheetah Milling.

Related Articles

Back to top button