Local newsNews

“Geen chloor vir Vredefort, maar aanleg pomp water”

In 2022 het die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit miljoene spandeer vir 'n onbevoegde kontrakteur wat die wateraanleg moes vernuwe en verbeter.

Water by Vredefort se suiweringsaanleg is Maandag 18 Maart steeds sonder chloordosering aan die dorp se inwoners gelewer. So sê DA-raadslid Saal de Jager wat ook ‘n lid van die Ngwathe-stadsraad se staande komitee oor Infrastruktuur is. Hy het Maandag ‘n oorsigbesoek aan die Vredefort-aanleg gebring, en sê die situasie is  bo en behalwe dat die dorp se inwoners, al vir maande soos in Parys, onder ernstige watertekorte gebuk gaan met te min water wat vir Vredefort en die Mokwallo-woonbuurt gesuiwer word.

Hy het na afloop van sy besoek gesê Vredefort se watersuiweringsaanleg is in ‘n haglike toestand. Toe hy vandag, Maandag 18 Maart, by die aanleg was, was twee van die besinkingsdamme bykans heeltemal tot bo gevul met afsaksels (sludge).

In 2022 het die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit miljoene spandeer vir ‘n onbevoegde kontrakteur wat die wateraanleg moes vernuwe en verbeter. Ten spyte daarvan word daar steeds nie genoeg water vir die dorp gesuiwer nie, en water wat wel gesuiwer word is dikwels van swak gehalte omdat die operateurs soms nie al die nodige prosesse kan uitvoer nie, het rdl. De Jager Maandag gesê.

“Dit het verlede week weer begin gebeur nadat die operateurs se chemiese reinigers opgeraak het.” Hy sê sommige inwoners ontvang nou ‘hierdie half-gesuiwerde water” in hul krane, sonder enige waarskuwing. In plaas van ‘n publieke waarskuwing het senior amptenare bloot daaroor aanhou swyg, sê hy.

“Dis onprofessioneel, selfs gevaarlik, dat inwoners en raadslede nie onmiddellik daaroor gewaarsku is nie,” sê rdl. Arnold Schoonwinkel. Hy kla dat raadslede verlede week, en tot nou toe, nie antwoorde kry nie: ” slegs ‘n onbeholpe geskarrel, met daelange en onverklaarbare swye.”

Die DA het inwoners van Vredefort Maandag gemaan om die water wat hul wel uit hul krane kry te kook voordat hulle dit drink of daarmee kosmaak.

Gazette het navraag oor die tekort aan chloor by die Ngwathe Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Steve Naale gedoen wat onderneem het om antwoorde van die Ngwathe munisipaliteit se waterbestuurder, mnr. Phele te kry. ‘n Verklaring was nog nie teen Gazette se druktyd ontvang nie, maar sal geplaas word sodra dit ontvang word.

Rdl. De Jager het  Maandagmiddag probeer om telefonies antwoorde oor die situasie by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se waterbestuurder, munisipale bestuurder en uitvoerende burgemeester te kry, maar sonder sukses.

Die situasie is intussen ook onder departement waterwese se aandag gebring.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button