Local newsNews

Ngwathe faal sy inwoners met dienslewering

"Ek kry daaagliks oproepe van moedelose inwoners wat soms week na week dieselfde probleem aanmeld,"

Kliëntediens begin by kontak met kliënte, maar vir weke lank is die Ngwathe munisipaliteit se hoofhommer (056) 816 2700 buite werking. Dit ten spyte daarvan dat dit telkemale vroeg in Januarie by die munisipale bestuurder, asook die finansiële direkteur aangemeld is. Dit beteken dat inwoners met diensleweringsklagtes noodgedwonge na die munisipale kantoor moet ry om by Kamer 8 probleme aan te meld. “Ek kry daaagliks oproepe van moedelose inwoners wat soms week na week dieselfde probleem aanmeld,” sê rdl. Saal de Jager.

Die frustrasie met die munisipaliteit se dienslewering word daagliks gesien. Inwoners van Schuttestraat moes vir drie weke sukkel met lae lading op die kragnetwerk met gevolglike skade aan elektriese toerusting. Een van die inwoners wat ernstig hierdeur geraak is, het by herhaling die probleem aan die munisipaliteit, senior munisipale bestuur en raadslede gerapporteer. Die probleem het veroorsaak dat haar yskaste en drukpomp onder meer nie kon werk nie, en gloeilampe se lig eerder aan kerslig herinner het. Die probleem is na drie weke se soebat eers Saterdagaand herstel. Maar wie betaal vir die skade van die afgelope drie weke?

Net meer as ‘n week gelede het ‘n kragpaal op die h/v Johanna- en Cilliersstraat omgeval waardeur twee blokke se huishoudings geraak is. Die paal het die Vrydagoggend geval. Toe is ontdek dat daar bye onder die paal is. Inwoners moes self inspring om hulp te kry om die bye te laat verwyder, en die omgewing rondom die paal te beveilig.

Toe die paal wel later die middag opgetel kon word nadat die bye verwyder is, kon die koppeling nie deur die munisipaliteit se elektriese afdeling gedoen word nie, omdat van die bye teruggekom het. Weer is self plan gemaak met die bye, en sou die elektriese span die Saterdagoggend terug wees vir die koppeling. Die koppeling is egter eers die Saterdagmiddag laat gedoen.

“Die elektriese span is baie toegewyd en werk onder uiters moeilike omstandighede met bitter min hulpmiddels tot hul beskikking. Na die dood van twee van die span se elektrisiëns verlede jaar, is hul poste steeds nie gevul nie,” sê rdl. De Jager.

Die gevolg is dat herstelwerk wat net ‘n paar uur moet neem, dikwels dae neem om te doen, omdat daar eenvoudig nie materiaal of beskikbare personeel is om aan die groot aantal klagtes aandag te gee nie.

“Mense sit met groot probleme weens die lae lading as gevolg van bedragingsprobleme en verloor duur elektriese toerusting soos yskaste, televisies en mikrogolfoonde. LED gloeilampe hou nie met die lae lading nie.Ons dorp se elektriese netwerk is totaal oorlaai, transformators is té klein en is vir jare nagelaat om die transformators te diens. Substasies is lankal nie meer op standaard nie as gevolg van veiligheidstoerusting wat gebrand het, of gesystap word. Die gevolg hiervan, behalwe vir die veiligheidsrisiko, is dat baie groter areas nou afgeskakel moet word as daar gewerk word aan foute,” sê rdl. De Jager.

Hy sê as gevolg van die jarelange gebrek aan onderhoud, word die netwerk baie verder beskadig na beurtkrag en kragonderbrekings.
Planne vir ‘n voorgestelde en reeds goedgekeurde ladingsverlagingstelsel wat Parys 40% krag maandeliks sou kon spaar en die netwerk kon beskerm, het sedert Mei verlede jaar nog nie gevorder nie, en die wintermaande wat verdere kragprobleme sal bring, lê voor.
Telkens wanneer daar ‘n storm is, word kragpale omgewaai en dan tydelik herstel net om nooit weer aandag te kry nie, sê rdl. De Jager. Hy sê daar word gewag totdat iets totaal breek of omval voordat aandag gegee word, en dit word deur inwoners beaam.
Nog meer kommerwekkend is dat 90% van elektriese kaste nie kan sluit nie of oopstaan wat nie net ‘n veiligheidsrisiko is nie, maar kortsluitings kan veroorsaak na elke reënbui. By sommige strate soos Boomstraat is dit feitlik seker dat inwoners sonder krag gaan sit na reën of wind. “Dieselfde foute word oor en oor reggemaak. Raadslede word nou die eerste persoon wat gekontak word omdat dit feitlik onmoontlik vir inwoners is om iets aan te meld.

Gedeeltes van die dorp sit steeds vir dae aaneen sonder water of met min water. Soms na ‘n pypbars in ‘n area word vergeet om kleppe weer oop te draai met die gevolg dat inwoners in onder meer Paulsen- en Buitenstraat onlangs vir weke weer nie water gehad het nie, sê rdl. De Jager.

Mense spandeer R800 en meer per maand om boorgatwater te laat aanry deur private persone.

Tientalle stopstrate is nie meer op hul plek nie. Ook hier is dit inwoners wat plan maak omdat hulle bang is mense verloor hul lewe.
“Die verplasing van Ngwathe se verkeersdepartement na die provinsie het ‘n groot leemte gelos. Bywette word nie afgedwing nie, en mense jaag oor stopstrate.,” voeg rdl. De Jager by.

Minder as 50% van Ngwathe se inwoners betaal vir elektrisiteit, water, belasting of dienste. Baie meters is uitgesny of werk nie. Tog word dit nie herstel nie, of daadwerklik gepoog om die wanbetaling aan te spreek nie, het rdl. De Jager gesê.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button