Local newsNews

Koepel-rooikat kry nuwe tuiste

"Vir ons is dit 'n eerste gevallestudie van hoe die proses van hervestiging werk, en hoe grondeienaars en die departement kan saamwerk om 'n positiewe verskil te maak"

‘n Eerste en suksesvolle hervestiging van ‘n rooikat uit die Vredefort Koepel na die Faan Meintjies Natuurreservaat in Klerksdorp, is met die hulp van beamptes van die Noordwes Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Bewaring & Toerisme gedoen.

Die sukses is grotendeels te danke aan ‘n insiggewende praatjie en lewendige bespreking oor die bestuur van roofdiere, deur ekoloog John Power. Power is in September 2023 deur die Vredefort Koepel Bewarea as spreker genooi. Voor die praatjie was daar min skakeling tussen die departement en grondeienaars, en is die uitnodiging aan grondeienaars gerig om met die departement te skakel vir advies en ondersteuning met onder meer identifisering van roofdiere, maar ook hervestiging.

Tans is dit veral jakkalse, rooikatte en bobbejane wat ‘n probleem vir grondeienaars in die Vredefort Koepel is.

Na die praatjie het dr. Jan Bastiaan Fouche, ‘n veearts van Parys, wat ook by die praatjie was, te hore gekom van ‘n probleem rooikat op ‘n plaas aan Noordwes-kant van die Koepel toe hy die grondeienaar vir ‘n veeartsverwante uitroep besoek het. ‘n Hok is uitgesit en met die samewerking van Siyabonga Mseleku, die departement se spesialis in skade veroorsakende diere, en dr. Fouche kon die hervestiging suksesvol gedoen word.

Uit ‘n ekologiese en bewaringsoogpunt bly die hervestiging van ‘n probleemdier ‘n beter oplossing, as om ‘n dier van kant te maak juis omdat die Bewarea ingestel is op bewaring, sê dr. Biddie Biddulph, voorsitter van die Vredefort Koepel Bewarea.

“Vir ons is dit ‘n eerste gevallestudie van hoe die proses van hervestiging werk, en hoe grondeienaars en die departement kan saamwerk om ‘n positiewe verskil te maak. Sodoende kan die dier in sy natuurlike habitat eerder as in ‘n landbou omgewing jag,” het Biddie gesê.
Die Noordwes Department van Ekonomiese Ontwikkeling, Bewaring & Toerisme bedien ‘n wye gebied wat strek van Potchefstroom tot by Vryburg, en sluit die noordwes-kant van die Vredefort Koepel in.

Die rooikat nog in die hok, gereed om vrygelaat te word in sy nuwe tuiste.

Die department is onder meer nou gemoeid met bewusmaking en bewaringsopvoeding.

Verskeie hervestigings van veral luiperds en die bruin hiëna is al gedoen, meestal in die Vryburg area, maar was skakeling met Vrystaatse grondeienaars in die verlede beperk.

Die praatjie het weer gewys wat die waarde van kennis is, en hoe beide grondeienaars en die departement kan baat by skakeling, ook om akkurate data te versamel oor roofdiere in spesifieke gebiede.

Wat belangrik is, en wat ook deur Power in sy praatjie beklemtoon is, is dat die besluit van hervestiging altyd versigtig oorweeg moet word, en hoewel nie altyd ideaal nie, dit steeds ‘n stap weg daarvan is om ‘n dier van kant te maak.

Dit is ook belangrik om te onthou dat grondeienaars volgens wet natuurbewaring in kennis moet stel as daar ‘n roofdier is wat ‘n probleem veroorsaak. Die departement sal dan die nodige ondersteuning bied. Grondeienaars is welkom om Siya by 061 478 5931 te skakel of stuur ‘n e-pos na SMeseleku@nwpg.gov.za

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button