Local newsNews

Vredefort se mense rol moue op vir Operasie Skoonmaak

Die gemeenskap van Vredefort werk jaar na jaar saam om van hierdie Paasgeleeentheid n groot sukses te maak.

Saterdag is dit Operasie Skoonmaak in Vredefort se strate wanneer dié dorp se inwoners hul dorp gaan netjies maak vir die Kruistog wat vanjaar op 29 Maart gehou word. Sowat 3 000 mense word  verwag by dié besondere Paasfeesviering, en is dit die derde jaar dat die gemeenskap van Vredefort mense van oraloor in dié Vrystaatse dorpie gaan ontvang vir ‘n Via Dolorosa-ervaring in die hart van die Vredefort Koepel.

Man en muis rol  Saterdag 16 Maart die moue op om te help. Daar word om 08:00 op die kerkterrein van die dorp se NG Kerk bymekaar gekom vanwaar daar opgedeel word in spanne en die strate ingevaar word, vertel  Juan Greeff, een van die organiseerders.

Die skoonmaakaksie duur tot 13:00 waarna elkeen wat hand bygesit het, bederf word met ‘n gratis worsbroodjie op die NG Kerkterrein.Saterdag 23 Maart is daar ‘n groot kruisbou-aksie by die dorp se Dinamika gemeente. Kom bou jou eie kruis vir die 3km sirkelroete wat  mense die dag met hul kruise deur Vredefort se strate sal stap,  of kom sit sommer net hand by of kuier saam as daar gewerk word.

Daar is al fluks gevorder met die bou van die nuwe vlot wat vanjaar aan die voorpunt van die optog sal wees. Die vlot stel die wederkoms voor en oud en jonk vou  al die afgelope twee weke aan die duisende plastiekblomme wat nodig is vir die versiering van die vlot.

Duisende plastiekblomme word gevou vir die versiering van die vlot. Die spannetjie het Maandag help vou.
Daar is al ver gevorder met die bou van die vlot wat aan die voorpunt van die Kruistog sal wees.

Met die Kruistog op 29 Maart sal daar vroegdag by die dorp se sportgronde bymekaar gekom word vir die voorprogram met lofprysing en aanbidding vanaf 10:30 saam met plaaslike kunstenaars soos Lizette Combrinck, Richann Brüssow en Andries D’Alebout. Daarna word ‘n kruisformasie gevorm en ‘n hommeltuigfoto geneem. Die nagmaal sal dan bedien word waarna mense die Kruistog-roete sal stap wat begin en eindig by die sportgronde. Die kruistog duur ongeveer ‘n uur vanaf 12:00 die middag tot 13:00. 

Die roete word teen ‘n gematigde pas gestap en is so dat oud en jonk gemaklik kan saamstap. Daar is ook voertuie beskikbaar vir mense wat nie kans sien om die roete te stap nie.

Langs die roete sien jy uitbeeldings van die lewe en bediening van Jesus, en voorstellings van Sy gelykenisse. Boere rondom Vredefort stuur jaar na jaar hul sleepwaens dorp toe sodat die verskillende stasies langs die roete op dié sleepwaens uitgebeeld kan word, en dit duidelik sigbaar kan wees tydens die massa-optog.

Hierdie is ‘n gemeenskapsprojek. Gratis vir enigeen om by te woon en aan deel te neem. Daar is ook ‘n gratis aandenking vir elkeen wat die Kruistog meegemaak het om jou te herinner aan dit waaroor Paasfees gaan.Al waarvoor jy sal betaal is as jy die kosstalletjies by die sportterrein wil ondersteun.Voorsiening word gemaak vir ‘n beskermde area waar mense teen ‘n fooitjie hul kinders met gemoedsrus onder toesig kan los terwyl jy deelneem aan die massa-optog. Daar sal ook ‘n spesiale kinderprogram aangebied word en gaan die kinders hul eie kruise maak.

Die Kruistog is ‘n projek van die gemeenskap van Vredefort, maar dit is meer as wat jy op 29 Maart met die Kruistog in Vredefort sal beleef. Dit is ‘n dorpsopheffingsprojek, waarvan jy dié naweek ‘n kykie sal kry wanneer Vredefort se mense die strate invaar met plastieksakke en handskoene om skoon te maak. 

Een van hul drome om die NG Kerk se kloktoringhorlosie weer te sien loop, en die klokslae al om die halfuur en uur in die dorp se strate te hoor weerklink, is reeds verwesenlik. Nou wag nog net die skoonmaak en regruk van die dorp se strate en sportgronde in afwagting op die groot dag.

As jy nie kan help Saterdag nie, borg jou tuinhulp of ‘n werker om vir ‘n paar uur te kom help, of  bring jou kreatiwiteit en kom help met die voorstellings op die sleepwaens, of om kruise te maak. Elke hand is nodig. 

Gesels met Juan Greeff by 079 874 1860 as jy wil help met die voorstellings langs die roete. Daar is soveel geleentheid om betrokke te wees of te gee.Gesels met Paul Joubert by 071 116 1755 as jy wil help met die vlotbouery. Mense wat wil hulp aanbied met die dorp se skoonmaak en verfraaiing kan Johann Bloem by 083 626 8103, of Adolf Greeff by 083 419 7369 skakel.

Hou ook die Kruistog-webblad dop by www.kruistog.co.za, of stuur ‘n e-pos na info@kruistog.co.za, of WhatsApp na 079 874 1860 as jy meer wil weet oor die Kruistog, betrokke wil wees of wil bydra.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button