Local newsNews

Amot spit en skoffel vir derde plek in tuinkompetisie

Personeel en inwoners werk saam om tehuis-tuin netjies te hou.

Die Amot Tehuis vir Bejaardes het ‘n welverdiende derde plek losgespit, geskoffel en gesnoei in vanjaar se eerste Ons Tuis
Woeker & Werk Tuine kompetisie waaraan al agt NHSV Tehuise deelgeneem het. Tuinghoeroe JJ van Rensburg van Gardens
by JJ het die tuine beoordeel, en het die kompetisie die klem geplaas op aktiewe veroudering.

Die eerste plek is gewen deur Machteld Postmus tehuis van Pretoria, met Huis Emily Hobhouse in die tweede plek. Die kompetisie is geborg deur ZZ2 Boerdery en Protek. Die plan is om die volgende kompetisie landwyd uit te brei sodat alle tehuise vir bejaardes kan deelneem.

Volgens matrone Teresa Broodryk van Amot, het die tehuis al voor die kompetisie besluit dat hulle die voorste gedeelte van die tehuis se
tuin wou oordoen.

Die personeel het ingespring en gehelp en is onder meer gras geplant en ‘n waterfontein geskep met die hulp van die gemeenskap. Die tehuis se inwoners en versorgers het fluks hand bygesit en help soek na plante en potte, en die verfkwaste nader getrek om die potte kleur te gee.

Stompie van Waveren en Ria Nienhuis het baie tyd en energie ingesit in die mooimakery, terwyl Debbie Pieters die binnetuin se versorging onder haar vaardige hande geneem het. Estelle Cotty het weer gehelp met die voorste ontvangsgedeelte.

En dan is daar die 90-jarige oom Tewie Steyn wat al jare lank sy hand aan die tehuis se vrugtebome hou en sorg dat dit gesnoei
word. Dit is oom Tewie wat gesorg het dat 18 bome hier geplant is en hy vertel dat hy en die tehuis se vorige matrone, Val Botha,
‘n ooreenkoms gehad het – Amot gee die water vir die bome, en hy snoei dit. Die vrugte wat die bome dra is Amot s’n.

Jaar na jaar sorg oom Tewie dat Amot se inwoners dié heerlike vrugte kan geniet. Toe daar nog
roosbome in die tehuis-tuin was, het hy dit ook gesnoei. Hy was op sy dag ‘n lektor vir 17 jaar en het ook die voorreg gehad om te boer.  Die Orion perske in Amot se vrugteboord is sy gunsteling sê hy.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button