Nagmerrie met verkeerskantore ook in Heilbron gesien
"Mense moet kilometers ver ry om gehelp te word"
Meer as ‘n jaar na ‘n inbraak by die Heilbronse provinsiale verkeers en lisensiekantoor, kan daar steeds nie ‘n volledige diens aan die publiek gelewer word nie.
In ‘n verklaring sê Jafta Mokoena, die DA se woordvoerder van Paaie en Vervoer in die Vrystaatse Wetgewer, dat toerusting wat noodsaaklik is vir die kantoor om te kan funksioneer, op 2 Maart 2023 gesteel en gevandaliseer is. Toe daar verlede jaar navraag gedoen is oor wanneer die kantoor weer operasioneel sou wees, was die departement se antwoord dat die kantoor binnekort weer oop sou wees.
Meer as ‘n jaar later is die voorste kantoor van die sentrum steeds gesluit en is ‘n tydelike kantoor ingerig wat net minimale dienste aan verbruikers kan lewer.
Mokoena sê dit beteken dat mense kilometers ver teen koste moet ry na naburige dorpe vir noodsaaklike dienste wat die kantoor moes lewer. Die Parys provinsiale verkeer en lisensiekantoor was ook onlangs weereens vir dae aaneen gesluit terwyl gewag is dat die gras agter die gebou gesny moet word. Voor dit was die kantoor vir maande toe weens ‘n elektriese probleem.