Local newsNews

Heilbron word deel van Metsimaholo

Die dorp vorm tans deel van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit waarvan Parys, Koppies, Vredefort en Edenville ook deel is.

Planne om Heilbron deel te maak van die Metismaholo Plaaslike munisipaliteit, gaan voort. Dit is deur Barileng Dichabe van die Munisipale Afbakeningsraad aan Gazette bevestig.

Die dorp vorm tans deel van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit waarvan Parys, Koppies, Vredefort en Edenville ook deel is. Besonderhede oor die grensveranderings van munisipaliteite wat geraak word, sal op 8 Maart in die Vrystaatse Provinsiale Gazette gepubliseer word, waarna die Onafhanklike Verskiesingskommissie in kennis gestel sal word om te bepaal hoe dit die verteenwoordiging van kiesers op geaffekteerde munisipale rade sal raak. In gevalle waar dit wel die samestelling van munisipale rade raak, sal die hersamestelling van grense na alle waarskynlikheid eers met die volgende plaaslike munisipale verkiesings in 2026 in werking tree, het Dichabe gesê.

Dit is ook Maandag deur Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, aan Gazette bevestig toe sy gesê het dat Heilbron eers in 2026 met die volgende plaaslike munisipale verkiesings deel van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit sal wees. In gevalle waar munisipale grensveranderings nie verteenwoordiging op munisipale rade raak nie, is die verandering van krag vanaf die datum soos gepubliseer deur die LUR vir Plaaslike Regering in die provinsiale Gazette.

Dichabe het gesê die Munisipale Afbakeningsraad neem verskeie faktore in ag wanneer voorstelle gemaak word vir herbepaling van munisipale grense. Dit sluit onder andere in aspekte rondom behuisingspatrone, werksgeleenthede, vervoer en infrastruktuur. So byvoorbeeld verbind die R57 Heilbron met Sasolburg en is die afstand tussen Heilbron en Sasolburg heelwat nader as wat Heilbron van Parys af is.

Met die byvoeging van Heilbron by die Metsimaholo munisipaliteit word die gebied wat kan bydra tot ekenomiese ontwikkeling en munispale dienslewering vergroot, is in ‘n verklaring van die Munispale Afbakeningsraad gesê.

Openbare verhore oor die beoogde insluiting van Heilbron by Metsimaholo is op 30 Augustus in Phiritona-Heilbron gehou, en op 31 Augustus in Zamdela-Sasolburg. In die verklaring is ook gesê dat meeste mense die voorstel aanvaar het.

Die voorgestelde herbepaling van grense vir die Ngwathe en Metsimaholo munisipaliteite is reeds op 12 Januarie in die Vrystaatse provinsiale Gazette geplaas en het mense 30 dae gehad om te kon reageer op die voorstel.

Die Die DA Metsimaholo koukus het die inlywing in geheel teengestaan. Die DA is in sy standpunt ondersteun deur die EFF, VF+, MCA en ATM.

Die DA en ander opposisiepartye het ook in Februarie tydens ‘n spesiale sitting van die Metsimaholo Plaaslike munisipaliteit teen die inlywing gestem.

Volgens Ngwathe Vryheidsfront Plus raadslid, Phillip van der Merwe, is daar ‘n groep wat hulle reeds jare lank beywer vir die inlywing van Heilbron by Sasolburg. Die voorstel het egter ‘n paar jaar gelede ook voor die Afbakeningsraad gedien en het toe hewige protes, gepaardgaande met onluste uit die geledere van Metsimaholo ontlok.

Die Munisipale Afbakeningsraad het in totaal 215 aansoeke op 13 Desember 2023 oorweeg, en toe uiteindelik 70 gevalle uitgewys vir die ondersoek na munisipale grensherbepalings. Nadat al die voorstelle tussen 8 en 12 Januarie in die provinsiale Gazette gepubliseer is, is in totaal 541 besware ontvang wat toe op 27 Februarie oorweeg is, voordat die finale besluite nou op 8 Maart gepubliseer kan word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button