Local newsNews

Geliefde kerkman dié naweek gegroet

“Die Here en die kerk was sy lewe. Hy het nie verdien om so te sterf nie."

Die begrafnisdiens van die 72-jarige Kenny Browne wat verlede naweek in sy huis in Fochstraat in Parys vermoor is, sal Saterdag 9 Maart om 11:00 vanuit die Methodiste Kerk in Parys gehou word.

Daar is met die skryf van die berig (Dinsdag 6 Maart) steeds gesoek na sy moordenaar/s

Kenny is Sondagoggend om ongeveer 09:45  in sy huis op die kombuisvloer gekry met sy hande en voete vasgebind. Hy was reeds dood toe hy gekry is.

Een van die kerk se gemeentelede, Margi Farre, het hom in sy huis gekry nadat sy onraad vermoed het toe hy nie soos gewoonlik Sondagoggend vroeg by die kerk was om te help met voorbereidings vir die erediens nie. Hy het ook nie sy foon geantwoord nie. Dit was sy gewoonte om altyd te laat weet as hy nie kon kom nie, of laat sou wees. Donderdag het hy nog aan haar gesê dat hy haar Sondag by die kerk sou sien.

Margi was veral onrustig omdat hy die vorige week nie gesond was nie.

Die agterdeur was oop toe sy by die huis kom. Daar was ook nie tekens van geforseerde toegang nie, het polisiewoordvoerder kapt. Lorraine Earle gesê.

Sy selfoon, beursie, ‘n gasbottel en skootrekenaar word onder meer vermis.

Kenny was nooit getroud nie en het alleen gewoon. Hy is in Parys gebore en het sy lewe lank hier gewoon.

Oor die jare was hy besonder geliefd in die gemeenskap, veral by die Methodiste kerk waar hy baie betrokke was. Hy was ook ‘n leke-prediker. “Die Here en die kerk was sy lewe.”

Baie Parysenaars sal sy vriendelike en hulpvaardige diens onthou in die jare wat hy vir Mica gewerk het. Vroeër jare was hy ook in die meubelbedryf werksaam.

Hy was sy lewe lank by die kerk betrokke, maar het hom na sy aftrede veral toegespits op die kerk se werksaamhede.

Hy het oral gehelp waar hy kon, en bejaardes van die gemeente wat nie meer kon bestuur nie, dikwels geneem waar hulle moes wees.

Margi het vertel dat hy op ‘n dag toe hul saamgery het, gesê het dat as die Here hom môre sou kom haal, hy gereed is. Sy lewe was ‘n getuienis hiervan.  Iemand wat gelewe het vir sy geloof, ‘n grapjas, ‘n omgeemens. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. As iets gebreek het of gedoen moes word, was hy daar om te help.

Sy ongelooflike kennis van die dorp en sy mense het jou altyd opgeval.

Vir sy ‘kerkfamilie’ laat sy dood ‘n oneindige groot leemte en sal sy opregte vriendskap baie gemis word.

Die polisie het ‘n beroep gedoen op enigeen met inligting om a.o. Jaco Venter te skakel by 082 554 3041, of kapt. Bruwer by 082 466 8094, of die Stop Misdaadnommer 08600 10111. Inligting kan ook anoniem deurgegee word op die MySAPS toepassing.

Related Articles

Back to top button