Local newsNews

Klokslae weer in dorp se strate gehoor

Mense kyk op en glimlag, want dié bekende geluid is lank nie gehoor nie.

Tyd staan vir niemand stil nie. Ook nie in Vredefort nie.

Die afgelope week weerklink die klokslae van die NG gemeente Vredefort se kloktoringhorlosie weer klokslag op die halfuur en  uur deur die strate van dié Vrystaatse dorpie.

Mense kyk op en glimlag, want dié bekende geluid is lank nie gehoor nie.

Met die dorp wat vanjaar op 29 Maart weer Paasfees op besondere wyse met die Kruistog sal vier, was die droom om die kloktoringhorlosie betyds voor die Kruistog aan die loop te kry. Die uurwerk is voorverlede week skoongemaak en ingestel, en verlede week het die slagwerk aan die beurt gekom.

Soos vier jaar gelede het Tem Booyens weer die nodige onderhoudswerk aan die horlosie gedoen.

Voordat hy die horlosie in 2020 onder hande geneem het, het die horlosiewysers vir bykans tien jaar  gestaan, en is vergeefs na die kloktoring gekyk vir die tyd.

Tem het lank saam met sy broer, Daan, by die destydse Urie Juweliers in Parys gewerk waar hy sy ondervinding in horlosie herstelwerk gekry het. Tem stel belang in die meganiese werking van dinge om hom, en is horlosies vir hom ‘n passie wat hom steeds na aan die hart lê, gesels hy.

Daaom het hy nie geskroom om die uitdaging te aanvaar om weer soos die vorige keer die kerkhorlosie aan die loop te kry nie.

Hiervoor moes die sowat 12m hoë kloktoring uitgeklim word om te gaan kyk wat skort, en toe begin die skoonmaakwerk. Daarna moes die tyd ingestel word, en die slagwerke aandag kry.

Al het dit Tem twee dae se harde werk gekos om die horlosie aan die loop te kry, kan jy hoor dat Tem dié takie met groot passie en ondernemingsgees aangepak het, want horlosiewysers tik ná aan sy hart.

“Ons doen dit mos vir die Here,” sê hy.

Die horlosie is in 1923 in Holland gemaak.

Die Kruistog
Daar word die afgelope twee weke al hard gewerk om duisende plastiekblomme te vou vir die vlot wat aan die voorpunt van vanjaar se Kruistog sal wees. Die vlot stel die wederkoms voor.

Soos vorige jare word die Kruistog deur die gemeenskap van Vredefort aangebied en vanjaar word 3 000 mense op 29 Maart in die dorp se strate verwag wanneer daar met kruise die 3km sirkelroete gestap sal word.

Vroegdag sal daar by die dorp se sportgronde bymekaar gekom word vir die voorprogram met lofprysing en aanbidding vanaf 10:30 saam met plaaslike kunstenaars soos Lizette Combrinck, Richann Brüssow en Andreas D’Alebout.

Daarna word ‘n kruisformasie gevorm en ‘n hommeltuigfoto geneem – iets besonders as jy kyk na die lugfoto van die 2 400 Kruistoggangers wat verlede jaar die klein dorpie se strate volgemaak het.

Nagmaal sal dan bedien word waarna mense die Kruistog-roete sal stap wat begin en eindig by die sportgronde. Die kruistog duur ongeveer ‘n uur vanaf 12:00 die middag tot 13:00. Die roete word teen ‘n gematigde pas gestap en is so dat oud en jonk gemaklik kan saamstap. Daar is ook voertuie beskikbaar vir mense wat nie kans sien om die roete te stap nie.

Hierdie is ‘n gemeenskapsprojek. Gratis vir enigeen om by te woon en aan deel te neem. Daar is ook ‘n gratis aandenking vir elkeen wat die Kruistog meegemaak het om jou te herinner aan dit waaroor Paasfees gaan.Al waarvoor jy sal betaal is as jy die kosstalletjies by die sportterrein wil ondersteun.Voorsiening word gemaak vir ‘n beskermde area waar mense teen ‘n fooitjie hul kinders met gemoedsrus onder toesig kan los terwyl jy deelneem aan die massa-optog. Daar sal ook ‘n spesiale kinderprogram aangebied word en gaan die kinders hul eie kruise maak.

Die Kruistog is ook meer as dit wat jy op 29 Maart in Vredefort sal beleef. Dit is ‘n dorpsopheffingsprojek, want vir die volgende maand sal daar soos die vorige jare gewerskaf word om die dorp skoon en netjies te maak. Die sportgonde word weer onder hande geneem – gras gesny, geverf en mooi gemaak.

Daar is planne om die naambord van die sportgronde op sy plek te kry. Lamppale en randstene moet geverf word.

Die dorp se tennisbane kort aandag.

Elke jaar dié tyd vat die gemeenskap en die munisipaliteit hande.

Omdat die hele projek gratis aangebied word, maak die organiseerders staat op eie fondse, borge en skenkings vir alle uitgawes. Maar daar is ook hande nodig om te help, en as jy nie kan help nie, borg jou tuinhulp of ‘n werker om vir ‘n paar uur of ‘n tydperk te kom help as daar mooigemaak en skoongemaak word onder toesig. Bring jou kreatiwiteit en kom help met die voorstellings op die sleepwaens, of om kruise te maak vir hulle wat nie het nie.

Gesels met Juan Greeff by 079 874 1860 as jy wil help met die voorstellings langs die roete. Daar is soveel geleentheid om betrokke te wees of te gee.

Gesels met Paul Joubert by 071 116 1755 as jy wil help met die vlotbouery. Mense wat wil hulp aanbied met die dorp se skoonmaak en verfraaiing kan Johann Bloem by 083 626 8103, of Adolf Greeff by 083 419 7369 skakel.

Hou ook die Kruistog-webblad dop by www.kruistog.co.za, of stuur ‘n e-pos na info@kruistog.co.za, of WhatsApp na 079 874 1860 as jy meer wil weet oor die Kruistog, betrokke wil wees of wil bydra.

Related Articles

Back to top button