Local newsNews

Minder water vir Heilbron oor Ngwathe se Rand Water skuld

Wat gevaarligte laat flikker is dat Rand Water in sy verklaring erken dat munisipaliteite se wanbetaling kan veroorsaak dat die skuldkrisis  dienslewering aan alle munisipaliteite wat deur Rand Water bedien word, negatief kan raak.

Rand Water het die afgelope week in ‘n verklaring wat Vrydag 1 Maart uitgereik is, verreikende stappe aangekondig vir kredietbeheer vir wanbetalende munisipaliteite soos die Ngwathe Plaaslike munisipaliteit. In die verklaring word kennis gegee dat vloeibeheer volgens regte wat in die waterdienste wet vervat is, na Heilbron met 20% ingekort is vanaf 26 Februarie, en ‘n verdere 20% teen 25 Maart sou dié munisipaliteit bly versuim om sy agterstallige skuld van by die R63 miljoen te betaal, of met ‘n afbetalingsplan vorendag te kom.

Dieselfde geld ook vir die Merafong munisipaliteit, en sal kredietbeheermaatreëls ook na ander wanbetalende munisipaliteite uitgebrei word wat nie hul skuldbetalingsooreenkomste eerbiedig nie, het Rand Water gewaarsku.

Rand Water spreek in die verklaring sy ernstige kommer uit oor munisipaliteite se groeiende skuldlas. Naas Ngwathe skuld munisipaliteite in Gauteng en Mpumalanga Rand Water in totaal meer as R3 miljard aan agterstallige skuld. Hiervan is R2 miljard verskuldig deur Gautengse munisipaliteite, R1 miljard deur munisipaliteite in Mpumalanga,en R63 miljoen deur die Ngwathe munsipalteit wat die enigste Vrystaatse munisipaliteit is wat deur waterverskaffer gelys is.

Benewens Ngwathe se agterstallige skuld van R62, 726, 875.18 is daar die huidige rekening van R4,096,039.70 wat Ngwathe se skuldrekening aan Rand Water teen 1 Maart op R66,822,914.00 te staan gebring het.

Ander munisipaliteite wat in die rooi by Rand Water is, sluit in die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (Gauteng), Victor Khanye Munisipaliteit (Mpumalanga), Randwest City Local Municipality (Gauteng), Merafong City Local Municipality (Gauteng), Govan Mbeki Municipality (Mpumalanga) en Emfuleni Local Municipality (Gauteng).

Rand Water het weer, soos in Desember, gewaarsku teen die impak wat die groeiende skuldlas op die waterverskaffer se eie finansiële posisie het. Betalingspatrone van munisipaliteite het so versleg dat dit die likwiditeit, finansiële prestasie en volhoubaarheid van Rand Water se dienslewering benadeel, is gesê.

Ten spyte van meedoënlose pogings om die deurlopende patroon van wanbetaling te probeer akkommodeer deur verskeie ooreenkomste en interregeringsgesprekke, is daar ‘n dooie punt bereik, en is dit duidelik dat wanbetalende munisipaliteite die ‘eindelose’ en ‘vrugtelose’ onderhandelings misbruik sonder voorneme om skuld te betaal, sê Rand Water.

Rand Water sê hy het daarom geen keuse as om ‘n interregerings finansiële dipuut te verklaar en dringende ingryping van die nasionale tesourie en Cogta (Samewerkende regering en tradisionele sake) te vra.

Wat gevaarligte laat flikker is dat Rand Water in sy verklaring erken dat munisipaliteite se wanbetaling kan veroorsaak dat die skuldkrisis  dienslewering aan alle munisipaliteite wat deur Rand Water bedien word, negatief kan raak. Spesifiek wat betref Rand Water se vermoë om grootmaat waterverskaffingsinfrastruktuur te bou en te onderhou.

Dit kan ernstige implikasies inhou vir sy hele waternetwerk, maar veral Gauteng en ander dele van die land.

Gevolglik dui dit op dieselfde skuld wurggreep waarin Eskom hom al jare bevind met wanbetalende munisipaliteite, en die impak wat dit ook op die kragverskaffer se dienslewering het.

Selfs herhaalde hofuitsprake, ook tussen Ngwathe en Eskom, waar bevind is dat verbruikers nie gestraf kan word vir skuld tussen regeringsdepartemente nie, het nog geen oplossings gebring vir die skuldkrisis weens munisipaliteite se wantbetaling waarmee Eskom en Rand Water worstel nie.

Waar staan Heilbron in dié krisis?
Die skuld vir Heilbron en Phiritona se maandelange waternood is vroeër in ‘n skrywe van die minister van waterwese en sanitasie, mnr. Senzo Mchunu, voor die deur van die Ngwathe munisipaliteit gelê omdat dié munisipaliteit volgens die minister nooit reageer het op Rand Water se kennisgewing in Desember oor vloeibeheer om watervlakke in die watervoorsiener se opgaardamme te reguleer nie.

Heilbron is die enigste Ngwathe dorp wat deur Rand Water van water voorsien word.

Die vraag wat nie toe deur die minister beantwoord is nie, is of Ngwathe se wanbetaling van sy rekening aan Rand Water dalk die rede is vir die verminderde watertoevoer na die dorp. Daar is ook nie geantwoord op vrae oor Rand Water se infrastruktuur vermoë om aan Heilbron genoegsame water te kan voorsien nie.

Die dorp kry sedert Desember alreeds net 4,5 megaliter water van die 8 megaliter water wat in die verlede ontvang is, en is dit onduidelik hoe die verminderde vloeibeheer waarna in die verklaring verwys is, toegepas sal word.
Die huidige watertekorte in die dorp striem veral ook groot nywerhede wat afhanklik is vir water vir vervaardigingsprosesse.

In minister Mchunu se skrywe wat gerig was aan die Vryheidsfront Plus LP, Tammy Breedt, is wel spesifiek verwys na die onstabiele bestuurstruktuur van Ngwathe, en vakante sleutelposte by die munisipaliteit, wat bydra tot swak bestuur van watervoorsiening in Ngwathe, en ‘n gesukkel om resolusies te implementeer, terwyl onbevoegde en onervare tegniese personeel bydra tot swak dienslewering.

‘n Verrassende aspek wat in die skrywe uitgekom het was dat hoewel Rand Water se pyplyn van sy pompstasie in Sasolburg na die opgaardam in Heilbron ‘n kapasiteit van 12 megaliter water per dag het, die minister sê dat die 8 megaliter water wat vroeër aan Heilbron voorsien is, reeds die diensleweringsooreenkoms tussen Rand Water en Ngwathe vir 7 megaliter per dag, oorskry het.

Na aanleiding van die minister se stelling dat Ngwathe nie op die vloeibeheer kennisgewing reageer het nie, het die VF Plus se rdl. Van der Merwe gesê dat dit hieruit duidelik is dat die burgemeester en Ngwathe se senior bestuur Heilbron en sy inwoners versaak het.

Hy wys daarop dat hy na Rand Water se kennisgewing die burgemeester in kennis gestel het van die implikasies van die kennisgewing, en gevra het dat ‘n dringende vegadering met die Rand Water raad en ‘n multi-party afvaardiging van Ngwathe gehou moet word.

Vrae is ook na die minister se skrywe deur rdl. Van der Merwe aan die burgemeester gerig oor die diensleweringsooreenkoms vir Heilbron waarna verwys word en waarvan raadslede nie kennis dra nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button