Local newsNews

Oudmatrone met die hart van ‘n Moeder Teresa

Vir dié oudmatrone sal Gleniffer en sy mense altyd 'n deel bly van haar hart.

Jy sien haar gereeld waar sy dorp toe stap, of skoffel in haar tuin, maar vroeër was dit by Gleniffer waar jy haar altyd sou kry – besig om om te sien na die welstand van die Gleniffer-huis se mense, maar ook ander met nood.

Deesdae is tannie Corrie nie meer betrokke by die bestuur van die Gleniffer-huis in Presidentstraat nie, maar in die harte van Gleniffer se mense het dié oudmatrone van Parys-hospitaal met die hart van ‘n moeder Teresa, ‘n baie spesiale plek. Verlede week het hulle ‘n verjaardagbraai vir haar gehou om haar 90ste verjaardag te vier.

Hoewel sy ‘n tyd gelede die leisels oorgegee het aan haar dogter, Cornet, deel sy nog in die lief en leed van dié huis se inwoners van wie sy elkeen by die naam ken.

Tannie Corrie is ‘n gebore Vrystater – die jongste van ses kinders. Toe haar ma oorlede is toe sy ‘n dogtertjie van 2 jaar oud was, het haar ouma haar grootgemaak in die huis in Delverstraat.

Na skool werk sy vir ‘n tyd lank by die destydse Volkskas in die dorp as teller, maar het sy haar roeping vir verpleging besef toe sy haar ouma moes versorg.
Tannie Corrie is na die Karl Bremer-hospitaal vir haar verpleegopleiding in 1964, en slaag haar kursus met onderskeiding en ‘n goue medalje, vertel sy trots op Gleniffer se stoep.

Daarna is sy na die Boksburg-hospitaal vir haar kraamverpleging opleiding. In 1967 voltooi sy ‘n kursus in operasiesaal tegniek, en in 1973 behaal sy ‘n kwalifikasie in verpleegkunde administrasie.

Nadat sy in 1984 ook ‘n kwalfikasie in Gemeenskapsverpleegkunde behaal het, begin sy as matrone by die hospitaal in Vrede. Daarna sou sy matrone van die hospitaal in Sasolburg word wat toe net gebou is, en later ook matrone van die Parys-hospitaal. ‘n Pos wat sy etlike jare beklee het tot sy met pensioen afgetree het.

In die vroeë tagtigerjare koop sy Gleniffer saam met ‘n venoot, Louis Hamman. Daardie jare was dit ‘n private hotel, vertel sy. Sy kon daarin slaag om haar vennoot uit te koop en word Gleniffer haar hartsplek waar sy mense met ‘n lae inkomste kon help met behuising.

Talle motorwagte en Sassa-pensionarisse het hier ‘n heenkome gevind. Ook hul kinders en dié se kinders.

Baie suksesverhale is geskryf van mense wat hier ‘n tydelike hawe gevind het om weer op hul voete te kon kom.

Oor die jare het sy nog kamers aangebou en is die weeklikse kerkdiens by Gleniffer instelling.

Maar dit was nie net by Gleniffer wat tannie Corrie haar brood op die water gegooi het nie. Vir baie jare het sy kospakkies saam met Doreen van der Merwe gepak vir die mense in die Tokoloho-woonbuurt.

Jy’t haar self sien slaggate regmaak in die strate van Parys. In 2020 gee Covid haar gesondheid ‘n knou, maar vir dié oudmatrone sal Gleniffer en sy mense altyd ‘n deel bly van haar hart en is dit hier waar jy haar nog dikwels op die Gleniffer stoep sal sien, want hierdie is haar mense vir wie sy opreg omgee.

Related Articles

Back to top button