Local newsNews

Kommer oor oeste as reën wegbly

Graan SA het oor die naweek gesê hy is baie bekommerd oor die impak van die droogte en mark omstandighede op graanprodusente.

Die volgende week sal vir boere in die Parys, Vredefort en Koppies-distrikte ‘n draaipunt wees as reën nie gou val nie. Reën van minstens 40-50 mm is kritiek nodig. Vir gewasse soos mielies, soja, sorghum en sonneblom loop die tyd uit. Die sorghum is in die aar. Sonneblomme blom. Mielies staan vol in saad, maar as dit nie reën nie, brand bestuiwing dood in temperature van 35 grade en hoër. Pitvulling gebeur nie. “Hulle voete moet nou in die water wees.”

Hoewel daar kleiner dele is wat reën gehad het, verwag baie boere ondergemiddelde of geen oeste weens die droogte en buitengewoon hoë temperature.

Boere wat vroeg geplant het, het nog hoop, maar vir boere wat eers later geplant het, is dit net die reën wat oeste kan red.

Dit is ook nie net die droogte en hitte wat boere bekommer nie. Daar is die brandgevaar met die veld wat baie droog is en die winter wat voorlê. Daar is droë winde en blitse, maar nie ‘n druppel reën nie.

Selfs vir veeboere kan die winter problematies wees met weiding, sê Barry Coetzee wat ‘n gemengde boerdery in die Vredefort-distrik bedryf.

Hoewel gras goeie groeityd gehad het, gaan dit verby en is daar nie volume nie. Nie ideale omstandighede om die winter in te gaan nie.

2023 was ‘n buitengewoon nat jaar met rekordoeste, maar Barry het op sy grond tot dusver vir Februarie net 31 mm reën gemeet, teenoor die 190 mm wat verlede jaar vir Februarie gemeet is. Sy verwagting is dat oeste nie eens die helfte sal wees van wat dit verlede jaar was nie.

Boere in die Koppies-distrik skets dieselfde prentjie van laat aanplantings wat swaarkry, en oeste wat gemiddeld tot ondergemiddeld sal wees. Noord van Koppies na Sasolburg se kant toe lyk dit selfs erger. Koppies-boere sê hulle het nog nie die helfte van die gemiddelde reën vir Februarie, wat die distrik gewoonlik kry, ontvang nie. Tot dusver is nog net 35 mm vir Februarie gemeet teenoor die 200 mm reën wat verlede jaar dié tyd in die Koppies-distrik gemeet is.

By Marius Voigt wat tusssen Vredefort en Kroonstad op die plaas Erfdeel boer, het die veld Sondag reeds gebrand. Dit is bitter droog.”

Vir mielies, sorghum, soja en sonneblom is genoegsame reën nou kritiek nodig.

“Hier en daar reën dit 2-3 mm, maar met die hitte brand die vog weg. Dit is kritiek droog, sê hy. Al het die jaar goed begin met goeie ondervog, kan graanprodusente in hierdie temperature nie produseeer as dit vir meer as ‘n maand nie reën nie. Die hitte maak dit net erger,” sê Marius. Dit moet binne die volgende week reën om nog enigsins iets te kan stroop.

“Ons is ten volle afhanklik van die Here,” sê hy.

Graan SA het oor die naweek gesê hy is baie bekommerd oor die impak van die droogte en mark omstandighede op graanprodusente. Die uiterste hitte en droë toestande veroorsaak dat die oes baie vinniger versleg as wat aanvanklik verwag is. “Ons het groot gebiede gesien waar die skade reeds onomkeerbaar is,” sê Tobias Doyer, Graan SA se hoof uitvoerende beampte.

Hy sê hulle het selfs besproeiingsmielies gesien wat ook uitdagings ervaar weens beurtkrag, asook die hittetoestande.

“Die wintergraan produksieseisoen het eweneens vroeër uitdagings gehad met oormatige reën in sekere dele wat verliese in opbrengste tot gevolg gehad het, en finansiële druk op produsente in dié areas plaas.”Hierdie uitdagings word ervaar in ‘n tyd waar marges op gewasse soos mielies, reeds laag is weens internasionale voorrade en internasionale prysdruk.

“Dit maak die hersteltydperk van die individuele produsente baie moeilik in uitdagende produksie omstandighede,” sê Graan SA.

“Die Nasionale Oesskatting se eerste skatting wat einde Februarie gepubliseer word, gaan belangrik wees om die nasionale toestand te evalueer, maar die realiteit is dat daar tans verskeie individuele produsente is wat wesenlike verliese in die gesig staar weens die droogte en markte”, sê Derek Mathews, voorsitter van Graan SA en produsent in een van die areas wat wesenlike uitdagings ervaar.

Related Articles

Back to top button