Local newsNews

Skole, publiek sê oor Bela-wet

Selfs te midde van die onsekerhede kan ouers se deelname aan die beheerliggaamsproses nie genoeg beklemtoon word om te verseker dat daar die nodige kundigheid op beheerliggame is, maar bowenal mense met 'n passie vir die onderwys en skole.

As die omstrede wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (Bela-wet) wel in werking gestel word, kan die finale sê in besluitneming oor toelating en taalbeleid by openbare skole, by die onderwysdepartement berus. Tot nou is besluite oor skole se beleid rakende onder meer taal, toelating, godsdiens, gedragskodes en tugprosesse deur skoolbeheerliggame geneem. Kommer oor die mate waarin die voorgestelde Bela-wet magte van beheerliggame sal beïnvloed, maar ook steun vir die konsepwet, is gehoor by verlede week se openbare verhoor oor die wysigingswetsontwerp wat deur die Vrystaatse Wetgewer by die Master Nakedi-sportsentrum gehou is.
Die Bela-wet is reeds deur die Nasionale Vergadering aanvaar, en word tans deur die Nasionale Raad van Provinsies verwerk. Die eerste openbare verhore oor die voorgestelde wysigings is in 2022 gehou, en sloer die proses al sedert 2017.

In sy bespreking van die konsepwet het mnr. James Ndlebe, hoofdirekteur van die departement onderwys gesê die wet handel uitsluitlik met bestuurs- en administratiewe kwessies. Hy het benadruk dat dit belangrik is dat mense hulself moet vergewis van die inhoud van die Bela-wet in sy geheel.

Mnr. James Ndlebe, hoofdirekteur van die departement onderwys wat die Bela-wet bespreek het tydens die openbare verhoor van die Vrystaatse wetgewer wat verlede week in Tumahole, Parys gehou is.

Belangrike aspekte waarmee dié wet handel, sluit in dat graad R as die nuwe verplige skoolouderdom gestel word, en word verwys na strawwe vir ouers wat nie hul kinders toegang tot skoolonderrig gee nie. Ndlebe het verduidelik dat die strawwe nie beteken dat die ‘polisie rondgestuur sal word nie’, maar dat die departement in gesprek sal tree met ouers oor die redes waarom ‘n kind nie skoolgaan nie.

Die Bela-wet fokus daarop om kultuur en geloofsverskille te akkommodeer, en word vir die eerste keer spesifieke bepalings rondom die hantering van enkelouers en swanger skoolmeisies in die konsepwet vervat.

Ndlebe het gesê hoewel die beheerliggame van openbare skole steeds skole se taalbeleid sal formuleer, die beleid en wysigings daaraan aan die departementshoof voorgelê moet word vir finale goedkeuring. en dat veranderde demografie van ‘n gemeenskap in ag geneem moet word by taalbeleid, in lyn met die land se wetgewing en sonder om te diskrimineer.

Lyfstraf word verbied, en word spesifiek gehandel met die dissiplinêre stappe wat gevolg moet word vir ernstige skooloortredings, asook die wegdoen van ontgroeningspraktyke waarmee leerders se waardigheid aangetas sou kon word. Daar is bepalings rondom aankope wat deur skole gedoen word, en die daarstel van ‘n eenvormige beleid vir verkiesing van beheerliggame. Skole sal met die Bela-wet ook kwartaalliks finansiële verslae moet indien.

Ndlebe het gesê mense het steeds die reg om op eie koste onderrig geleenthede vir kinders te skep, mits dit nie in konflik met staatsinstellings is nie. Die implikasie vir tuisskoolleerders is dat hierdie leerders geregistreer moet wees, ‘n kurrikulum gevolg moet word, en die leerders geassesseer moet word.

Uit kommentaar by die verhoor, was dit naas die kwessie oor taal en toelating, ook duidelik dat mense vrae het oor die praktiese uitvoerbaarheid en gereedheidgrondslag van die onderwysdepartement vir die akkommodering van graad R-leerders, en vrese dat die vertrouensband tussen skole en die departement gebreek kan word sou magte van beheerliggame verminder word ten koste van meer gesentraliseerde beheer. Ook die tuisskoolgemeenskap het verskeie aspekte in die wet bevraagteken.

In Maart sal 22 511 openbare skole beheerliggaamverkiesings hou. Met ‘n totaal van bykans 250 000 mense, waarvan meerderheid ouers is, wat tot beheerliggame verkies sal word, beteken dit dat dit een van die grootste verkiesings in die land is.

Selfs te midde van die onsekerhede kan ouers se deelname aan die proses nie genoeg beklemtoon word om te verseker dat daar die nodige kundigheid op beheerliggame is, maar bowenal mense met ‘n passie vir die onderwys en skole. Skoolbeheerliggame is die hande, oë en ore van ‘n gemeenskap. wat sonder vergoeding ‘n skool dien en elke drie jaar verkies word.

Die datum van beheerliggaamverkiesings word deur elke skool bepaal en moet ouers hulself vergewis van wanneer beheerliggaamverkiesings by die onderskeie skole gehou word.

Related Articles

Back to top button