Local newsNews

Sielvolle musiek klink in Vredefort se klipkerk

Wat 'n uitsonderlike musiekbelewenis!

Die ontmoeting tussen `n groep Oostenrykse musici en sangers en hulle Suid-Afrikaanse gashere het Saterdag afsluiting gevind in ´n stemmingsvolle uitvoering van eeue-oue musiek in die N G Kerk Vredefort. Die tien dag musiekseminaar is in die Koepel Kunstesentrum by Deelfontein aangebied deur Norbert Brandauer, dirigent van Salzburg, en Norbert Salvenmoser, professor vir skuiftrompet aan die Mozarteum.

Die afsluitingskonserte het Vrydag in Pretoria en Saterdag in Vredefort plaasgevind.

Die jaar 1600 was ´n waterskeiding in die Europese musiekkultuur: Die hoë kuns van die polifoniese styl van die Renaissance, verteenwoordig deur komponiste soos Palestrina en Monteverdi, is afgelos deur die ideale van teksgedrewe Barokmusiek in die basso-continuostyl wat in Andrea en Giovanni Gabrieli en later Heinrich Schütz, beroemde proponente gevind het. Monteverdi het in albei style gekomponeer.

Saterdag se konsert is begin met die feestelike openingsmusiek van Monteverdi se opera l´Orfeo, en het die luisteraars die geleentheid gebied om werke van al hierdie meesters te hoor. Groter werke, soos Jacobus Gallus se meesterlike vertoning van die Onse Vader, is afgewissel met klein juwele vir vierstemmige koor wat in Europa deel van elke kerkkoor se repertorium is.

Die kamerkoor van twaalf sangers is begelei deur ´n ensemble bestaande uit strykers, twee fluite, vyf barokskuiftrompette en ´n trompet, met Deelfontein se orrelpositief aan die basis van die continuogroep. Hierdie verskeidenheid van instrumente het kleurryke instrumentasies van die musiek moontlik gemaak, wat Brandauer se diep gevoel vir die musiek gewys het.

Die verskillende groepe – sangers, strykers, blasers – het veral in die meerkorige komposisies van veral die Gabrielis en Schütz gewys hoe selfs ´n klein ensemble sulke werke – wat destyds byvoorbeeld in die beroemde San Marco-kerk in Venesië uitgevoer is – kan aanpak.

Terwyl dit amper ondenkbaar is om hedendaagse skuiftrompette as begeleiding vir sangers te gebruik, kon met die barokinstrumente ´n uitstekende balans bereik word.

Die vaardigheid van die spelers het hierby ´n groot rol gespeel. `n Voorbeeld is die uiters gevoelvolle spel van die trompetspeler, wat selfs in duet met die sagte klank van die barokfluit nooit oordonder het nie.

Dit wat in die uitvoering egter bo alles uitstaan, is Brandauer se vermoë om die die teksbetekenis in die gevoelvolle uitvoering van die musiek tot uiting te bring. Dit was veral in die vier toegifte duidelik, toe die koor in ´n groot sirkel om die gehoor gestaan het en seënliedere van onder andere Durufle en Brandauer self gesing het.

Die konsert is deur ´n Ave Maria van Brandauer afgesluit.

Related Articles

Back to top button