Local newsNews

OG gaan ‘tande wys’ vir munisipaliteite wat bly brou

Die OG het nou twee nuwe eenhede wat gaan konsentreer op die uitsnuffel en regstel van wesenlike onreëlmatighede.

Drie rekenmeesters van die Vrystaatse kantoor van die ouditeur-generaal (OG) het Ngwathe raadslede verlede Woensdag ingelig dat daar steeds geen wesenlike verbetering is in die munisipaliteit se geldbestuur nie. Ngwathe het weer ‘n gekwalifiseerde ouditopinie (dit wil sê ‘n swak een) ontvang. “Dit beteken finansiële jaarstate bevat weer eens, soos die vorige twee jare, wesenlik misleidende verklarings,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, die DA-koukus se segsman oor munisipale geldsake.

Die volledige geskrewe ouditopinie vorm deel van die finansiële state.

Dit is verlede Woensdag in die Raad ter tafel gelê, as deel van die munisipale jaarverslag. Die volledige jaarverslag is nou, volgens regsvoorskrif, oop vir openbare bespreking. Afskrifte is vir die publiek beskikbaar by munisipale kantore, openbare biblioteke, en op Ngwathe se amptelike webtuiste.
“Die ouditopinie en jaarstate toon in strakke syfers Ngwathe se ellendige geldprobleme,” sê rdl. Phillip van der Merwe, koukusleier van die Vryheidsfront Plus.

Hy sê Ngwathe se finansiële herstelplan moet dringend uitgebrei en toegepas word. “Daarvoor veg ons weekliks, saam met die DA,” sê rdl. Van der Merwe. Opposisielede voorspel ook sterker optrede van die OG. “Die OG het onlangs deur wetgewing meer mag gekry om regstellende aksies op wankelrige munisipaliteite af te dwing, sê rdl. Schoonwinkel.

Hy sê raadslede is verlede week ingelig dat pligsversuim deur senior munisipale amptenare van nou af sal lei tot strafmaatreëls deur die OG. Dit mag groot boetes insluit wat die amptenare persoonlik sal moet betaal.

Die DA en die VF Plus het die stap verwelkom wat volg op parlementêre wetgewing wat die OG magtig om sy bevindings en aanbevelings pro-aktief af te dwing op munisipaliteite wat aanhou brou.

“Ngwathe staan uit as só ‘n sukkelaar.”

“Dit ploeter jaar na jaar voort, sonder pogings tot verbetering, maar met agterstallige skuld wat aanhou styg en styg,” is gesê.

Die OG het nou twee nuwe eenhede wat gaan konsentreer op die uitsnuffel en regstel van wesenlike onreëlmatighede. “Hul remedies word onderskraag deur wetgewing, en munisipale amptenare kan dit nie ignoreer of daarteen appelleer nie, ” sê rdl. Van der Merwe, ‘n prokureur van beroep.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button