Local newsNews

Voortrekkers onthou: Twee jaar na onbeskryflike tragedie by Doornkloof

Die vloedskade is herstel maar die herinneringe aan Chris sal bly voortleef in die harte van elke Voortrekker wat hom geken het.

Vandag, 4 Februarie is dit presies twee jaar na die ongeskryflike tragedie wat op die Voortrekkers se Doornkloof-kampterrein gebeur het toe vloedwater die lewe ge-eis het van Chris Gillomee (59), terreinbestuurder van die Voortrekkers se Doornkloof-kampterrein.
Swaar reën van by die 140mm het daardie nag in die distrik geval, en het die Doornkloof-spruit sy walle oorstroom.
Met groot genade is die enorme vloedskade op die terrein herstel danksy die ondersteuning wat van oraloor gekry is om te kon opstaan na die tragedie. Mense wat moue opgerol en help bou het om dié kampterrein weer ‘n tuiste vir soveel Voortrekker-kinders te kon maak wat jaarliks hier kamp.
Die herinneringe aan Chris sal bly voortleef in die harte van elke Voortrekker-kind wat by Doornkloof gekamp het, en Chris met sy onbeskryflike passie vir Doornkloof geken het.
“Die bome roep die klowe roep na jou, na jou Voortrekkerkind sal tuiste vind by jou, by jou.
Hier gaan ons saam, hier staan ons saam,hier bou ons saam vir jou.
Trou sal ons bly ou Doornkloofaan jou.”
Hieronder is die oorspronklike berig wat op 5 Februarie 2022 op Parys Gazette se webtuiste verskyn het.

Doornkloof-tragedie: Ongelooflike groot hartseer vir Voortrekkers

In ‘n  angsnag wat kwalik in woorde beskryf kan word, het vloedwater Vrydagnag 4 Februarie, die lewe ge-eis van Chris Gillomee (59), terreinbestuurder van die Voortrekkers se Doornkloof-kampterrein. Swaar reën van by die 140mm het Vrydagnag in die distrik geval, en het die Doornkloof-spruit sy walle oorstroom.

In die angsure wat daarop sou volg moes onder andere 30+ koorlede en onderwysers  van Witteberg wat op Doornkloof gekamp het, inderhaas na veiligheid gebring word. Hul bagasie is weggespoel maar was hul almal ongedeerd. Chris  wat gehelp het om van die kinders na veiligheid te bring, is  egter deur die vloedwater meegesleur en is sy liggaam vanoggend gevind.

Boere in die omgewing het gehelp om die kinders na Lindley terug te bring vanwaar ‘n bussie hulle na Bethlehem geneem het.

Die Vrystaatse Voortrekkers het in ‘n hartroerende boodskap gevra vir voorbidding vir Chris se vrou, Jackie, sy kinders, kleinkinders en familie. Chris sal onthou word vir sy liefde vir die kinders, hande wat vir niks verkeerd gestaan het nie, sy ongelooflike harde werk, sy poetse wat hy so graag gebak het en sy aansteeklike lag. Die Voortrekkers  eer sy nagedagtenis en sal sy plek op Doornkloof verseker leeg wees vir elke Voortrekker wat hier gekamp het. “Ons harte is stukkend.”

Lees ook van die wonders na die onbeskryflike tragedie

https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/2022/02/20/doornkloof-vloedtragedie-kampterreine-byna-weer-gereed-om-verhuur-te-word-2/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button