News

Koperbekers gevind danksy buurman se wakker oë

Kyk wat in jou straat en woonbuurt aangaan.

Binne minute nadat ‘n foto van gesteelde koperornamente verlede week op Gazette se webtuiste geplaas is en na WhatsApp groepe versprei is, is die eienaar van dié ornamente opgespoor. Dit danksy ‘n oplettende buurman wat dadelik rot geruik het toe ‘n man ewe nonchalant met ‘n sak goed by sy huis in Wesstraat verbygestap het.

Min het Jan-Louis Venter toe geweet dat dié ornamente net om die hoek van hom by een van sy bure in Derdelaan gesteel is. Jan-Louis het gesien hoe die man die sak goed neersit om oor ‘n muur te spring. Die man het toe hy gekonfronteer is, die sak gelos en laat spaander. Later is vasgestel dat die man deur minstens drie erwe met die gesteelde goedere moes beweeg het.

Jan Louis het die sak met die koperornamentbekers en kerse na die Gazette geneem in die hoop dat ‘n foto moontlik sou kon help om die eienaar op te spoor. Oorsteld van blydskap het Tracey Benato dadelik die ornamentele bekers op die foto by die berig op ‘n buurtwag WhatsApp groep herken, en is die bekers en kerse aan haar en haar man, Dennis terugbesorg.

Die bekers en kerse het in ‘n gazebo in hul erf gestaan wat as kuierarea deur die Benatos gebruik word. Tracey het agtergekom dat die bekers weg was toe sy in die gazebo skoongemaak het. Van die dief was daar geen spoor nie. Sy het die polisie in kennis gestel, maar daar was min hoop om die bekers te vind wat van groot sentimentele waarde vir Dennis is.

Dennis het die bekers sowat dertig jaar gelede by sy Italiaanse stiefpa gekry met wie hy ‘n baie hegte band gehad het.

Hy vertel dat sy stiefpa die grootste van die bekers in ongeveer 1943 met die tweede wêreldoorlog in Rusland gekry het. Sy pa het destyds uit ‘n Russiese gevangekamp ontsnap, en later na Afrika gekom waar hy in die Kongo as bouer gewerk het. Saam met die koperbekers het hy ook vir Dennis sy troffel gegee wat hy destyds by ‘n Italianer gekry het toe hy in die Kongo gekom het.

Jan-Louis en Dennis stem saam dat mense meer betrokke moet wees in hul woonbuurt. Kyk wat in jou straat en woonbuurt aangaan. Wees bedag op vreemde bewegings en voertuie wat onder verdagte omstandighede gesien word.

Moet nooit enige inligting as waardeloos beskou nie, en rapporteer wat jy sien aan die polisie. Dit help die polisie om patrollies op te skerp in gebiede waar sekere misdaadtendense gesien word.

Raak vertroud met jou bure se bewegings. Op die manier sal jy weet wanneer ‘n hek dalk sou oopstaan wat andersins dalk nooit oop is nie, voertuie uit of in ‘n erf beweeg op ongewone tye wat nie val binne jou bure se normale roetine nie, pos nie uitgehaal sou word nie, vreemde voorwerpe op ‘n grasperk sou lê, honde dalk aanhoudend sou blaf of daar beweging in ‘n erf onder vreemde en verdagte omstandighede sou wees.

Stoor noodnommers en jou bure se nommers op jou foon, en laat weet mense in jou woonbuurt as jy iets verdag sou opmerk.

Jan en San Publiek is die polisie se oë en ore, en jou oplettendheid kan inderdaad ‘n verskil maak om misdaad vas te vat in jou omgewing.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button