Local newsNews

Laaste groet vir polisie se geliefde kapt. Mossie

"Ons sal jou nooit vergeet nie. Ons salueer jou. Jou reis is voltooi."

Kapt. Francois Mostert wat vir baie jare deel van die gemeenskap van Parys was, is Vrydagmiddag 19 Januarie oorlede na ‘n lang gesondheidstryd. Hy was 64 jaar oud.

Kapt. Mostert en sy vrou, Cisca was die afgelope jare in Danabaai gevestig.

Francois Mostert ,of soos meeste hom geken het as kapt. Mossie, is gebore op 7 September 1959 in die Moedersbond in Pretoria.

Hy begin sy skoolloopbaan by Villieria Laerskool en matrikuleer aan Oos Moot Sekondêre skool in 1976.

Daarna is hy polisiekollege toe en word bevorder tot konstabel in Junie 1977. In Desember 1979 is hy bevorder tot sersant, en verwerf hy sy nasionale sertifikaat in Polisie Administrasie.

In Julie 1982 kry hy die rang van adjudant-offisier waarna hy in 1986 BBP beveiliging doen vir president PW Botha en sy familie.

Hy doen ook ‘n instrukteurskursus in Hoëspoed Bestuurstegniek.

In 1987 sluit hy  as adjudant-offisier aan by die Spesiale Wageenheid in Nylstroom, totdat hy in 1991 sy eerste stasiebevelvoerderspos in Ogies kry.

‘n Jaar later word hy bevelvoerder van Misdaadvoorkoming, die watervleuel, radiobeheer, buurt- en besigheidswag in Parys.

Hy het daarna in 1994 aangesluit by Misdaadvoorkoming – Opleiding in Witbank, voordat hy ook die stasiebevelvoerderspos by Perdekop in 1996 beklee het, en in 1998  as kaptein aangestel is as die stasiebevelvoerder by Morgenzon.

In 1999 ontmoet hy vir Cisca in die hospitaal waar hy pasiënt was en trou hulle in April 1999.

In Mei 1999 doen hy ‘n besering aan diens op en verloor sy regter been in Junie 1999.

Nog ‘n terugslag het daarna in Januarie 2 000 gevolg toe hy ook sy linkerbeen verloor het, en trek die gesin Parys toe.

Hul kinders het almal in Parys skoolgegaan en is kapt Mossie in ‘n pos by MIC aangestel.

Cisca het by dr. Francois de Bruin en later ook by dr Johann Langeveld gewerk.

Kapt Mossie het sy loopbaan van 42 jaar getroue diens in die SAPD afgesluit toe hy  op vroeë pensioen gegaan het in 2018. Hy en Ciska het  na Danabaai verhuis waar hulle huis gekoop het.

In 2020 verloor hy sy linker voorarm as gevolg van Covid, en kry ‘n geweldige terugslag met sy gesondheid.

Ongeag van sy liggaamlike gebrek was sy verstand tot die einde helder en wou hy nog baie dinge doen.

Sy liefde vir die see en die natuur was sy bederf tot die einde.

Kapt. Mossie het diep spore in baie lewens getrap, en sal onthou word vir sy sprankelende persoonlikheid, toegewydheid, opregte hart, harde werk en lojaliteit teenoor sy werk.

Kapt. Francois Mostert (regs) saam met een van sy oudkolleges, a.o Jan le Roux.

“Jou dapper stryd teen jou siekte wat jou op die einde jou lewe gekos het. Jy was so dapper, het nooit gekla nie, was altyd bekommerd oor ander terwyl jy siek was. Dankie vir jou lewe wat jy voluit geleef het,” het Cisca in ‘n Facebook-inskrywing die naweek geskryf.

Francois sal in liefdevolle herinnering deur Ciska, sy ses kinders en hul gades, 14 kleinkinders, sy broers, susters, oudkollegas, vriende en familie onthou word.

“Ons sal jou nooit vergeet nie. Ons salueer jou. Jou reis is voltooi.”

Die begrafnisreëlings was nog nie met die skryf van hierdie berig bekend nie. Sodra reëlings gefinaliseer is, sal dit tesame met die skakel waar die diens ook aanlyn gevolg kan word, op Ciska se Facebook-blad gedeel word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button