Local newsNews

Gee net die OTP, dan help ons jou gou

Kuberskelms lag al te lekker vir jou onkunde en goedgelowigheid

“Meneer, mevrou, ons sien daar is suspisieuse aktiwiteit op jou bankrekening. Ons stel dit onmiddellik reg. Lees net vir ons die OTP-nommer wat nou na jou selfoon gestuur is.”

Klink die woorde bekend?

Oppas maar – want dit is daardie einste OTP wat jy so gou is om vir iemand wat jy nie ken nie, oor die foon te lees, wat jou duisende uit jou sak kan jaag.

Geen bank sal jou telefonies vra om ‘n geheime pinkode (OTP) te gee nie.

Maar wag – hier’s nog een. ‘n SMS wat jou inlig van ‘n pakkie wat vir jou wag by die poskantoor. Sodra jy op die skakel in die SMS klik, kan jy maar weet iemand glimlag breed oor die geld wat uit jou bankrekening gevat is.

Jy moet  wakker slaap, kuberskelms is slimmer as die houtjie van die galg, waarsku die Parys SAPD en Gemeenskap Polisiëring Forum.

Ten spyte van herhaalde waarskuwings word gevalle byna weekliks aangemeld waar mense geld verloor met internetslenters.

Mense koop en verkoop en ruil dat dit bars op die internet. Dis mos vinnig, maklik en gerieflik sommer op jou foon in die gerief van jou huis, maar onthou net as iets te goed klink om waar te wees dan is dit presies hoe dit is – te goed om waar te wees. Jy kan nie net geld oorbetaal sonder dat jy ‘n produk gesien het nie, en dit boonop in ‘n rekening van iemand wie jy nie ken nie

As die prys drasties laer is as wat dit veronderstel is om te wees, moet jy maar weet – daar is ‘n slang in die gras.

Moenie jou persoonlike inligting vir vreemdes oor die telefoon gee nie. Nie eens vir die bank nie.

Bly weg van webtuistes wat jy nie ken nie. Gaan verwysings na en lees die resensies voordat jy sommer net koop op die internet.

En as jy dink dit gaan nie met jou gebeur nie – dink weer. Menige Jan en San Versigtig is al so gevang!

Related Articles

Back to top button