Local newsNews

Staat moet nou besluit oor vervolging van 204 getuies

Die 204-getuies se betoë in die ondersoek in terme van Artikel 204 van die Strafproseswet, is verlede week in die Hoë Hof in Parys gehoor.

Die staat moet nou besluit of hy vyf van die 204-staatgetuies wat vroeër getuig het in die opspraakwekkende verhoor na die dood van Tumelo Simon Jubeba en Samuel Tjixa gaan vervolg, aldan nie.

Dit nadat regter Corné Van Zyl Maandag nie vir Fanie Oosthuizen, Muller van der Westhuizen, Wicus van der Westhuizen, Wian van der Westhuizen en Johan Oosthuizen, gevrywaar het van vervolging nie.

Gawie Coetzer is die enigste 204-getuie wat deur regter Van Zyl gevrywaar is van vervolging.

Dit beteken dat die staat nou die ander 204-staatsgetuies, met die uitsondering van Coetzer, kan aankla op die oorspronklike klagtes van moord en regsverydeling wat aanvanklik deur die staat in die saak gebring is.

Jubeba en Tjixa het in die Pelenomi en Parys hospitale onderskeidelik gesterf kort na ‘n voorval op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik buite Parys op 6 Januarie 2016 toe hulle deur ‘n groep mans aangekeer en aangerand is nadat hulle verdink is van ‘n plaasaanval op Loedie van der Westhuizen sr. op die plaas Biesiesbult.

Al ses die 204-getuies was aanvanklik ook deur die staat aangekla, maar het toe ingewillig om vir die staat te getuig.

By getuies wat vir die staat getuig, geld die bepaling dat die getuienis openhartig en eerlik voor die hof sal wees, en behou die hof die reg voor tot vervolging as die getuies nie die hof in hul vertroue geneem het nie.

Die 204-getuies se betoë in die ondersoek in terme van Artikel 204 van die Strafproseswet, is verlede week saam met die betoë van twee van die destydse beskuldigdes, Anton en Cor Loggenberg, in die Hoë hof in Parys gehoor.

Related Articles

Back to top button